ADVERTISEMENT:

 

Hannes en Dorie Viviers. "Ons wil hê ander bejaardes moet gewaarsku word teen hierdie misbruik," sê hulle na ´n duur rybewys hernuwingsoefening by die Makhado Munisipaliteit.

Rybewys kos hom byna hele pensioen

 

News  Date: 20 July 2012

 

Meer as R700 vir die hernuwing van ‘n rybewys - dit was die voorland van ‘n bejaarde pensioenaris wat by die Makhado Munisipaliteit se verkeersafdeling bedien is.

Hannes en Dorie Viviers van Makhado (Louis Trichardt) was op die tweede dag van toustaan by die munisipale kantoor heel voor in die tou. Toe hulle by die oogtoetshokkie kom, is hulle meegedeel dat ‘n aansoeker ouer as 65 nie daar die gewone oogtoets kan ondergaan nie. Hulle is ‘n alternatiewe toetsplek aangewys, oorkant die straat, waar hulle ‘n spesiale toets  moes gaan deurloop.

“Ons het gedink dit is nog deel van die munisipale opset,” sê Hannes. “Daar was niks spesiaal aan die oogtoets nie,” sê Dorie “Dit was gewoon die kaart-teen-die-muur toets, maar toe dit klaar is, is ons aangesê om R150 daarvoor te betaal. Toe ek by die ontvangstoonbank wou gaan betaal, het die dokter gesê ek moet die geld sommer vir hom gee. Toe ek vra vir ‘n kwitansie, het hy gesê dis nie nodig nie. Hy het egter onmiddellik gesê ek sal nie my rybewys kry as ek nie ook ‘n mediese toets slaag nie. Hy het vir my ‘n deur gewys waar ek moes ingaan vir dié toets. Vir die mediese toets het die dokter net gevra of ek enige medikasie gebruik en toe vir my gesê ek is O.K. Hy het gesê die toets kos R350 en dat ek dit sommer by hom kan betaal. Hy wou ook nie ‘n kwitansie vir my gee nie. Hy het gesê hulle gee nie kwitansies nie.”

Met die oogtoets en mediese ondersoek se uitslae is hulle terug na die munisipale kantoor, waar hulle toe ook R216 vir die hernude rybewys moes inbetaal. “Altesaam R716! Dis amper my hele pensioen!”  sê Hannes.

Dorie was verontwaardig toe sy hoor hulle is vir die toetse na ‘n private mediese sentrum gestuur en nie na ‘n munisipale instelling nie. “As ek dit geweet het, kon ek dit baie goedkoper by Specsavers en die medies heeltemal verniet by die hospitaal laat doen het,” sê sy.

Die hele aangeleentheid is by ‘n senior munisipale amptenaar aangemeld, wat ontsteltenis uitgespreek het en onderneem het om dit ook onder die aandag van die burgemeester te bring, met die oog op ‘n amptelike ondersoek. Ten tye van die aanmelding (verlede Woensdag) was die burgemeester in ‘n vergadering en sy kantoor sou versoek word om met die egpaar kontak te maak sodra die vergadering verby is.

Teen Maandag vandeesweek was daar nog geen terugvoer van die burgemeester of enigiemand anders by die Makhado Munisipaliteit nie. Hannes sê hy weet die kanse is zero dat hulle hul geld gaan terugkry, maar hy wil graag hê ander bejaardes moet dringend gewaarsku word teen dié slenter.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines