

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 July 2012
Buiten vir moeilike ekonomiese omstandighede, die grondkwessie en onwettige jagters, moet boere van die omgewing nou ook teen onwettige rioolstorting baklei.
Mnr. Rodney Johnson, wat op 'n plaas buite Makhado (Louis Trichardt) boer, was woedend. Hy het verlede Dinsdag op ‘n voertuig afgekom wat rou riool reg voor die ingang na sy plaas uitpomp. Een van sy plaas se heinings loop langs die Mara-pad, wat by die N1-suid aansluit. By nadere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die bestuurder van die bakkie ook op twee ander plekke langs Johnson se grensdraad riool gestort het.
Dié geval was nie die eerste van sy soort nie. Soms word daar ander vullis en selfs asfalt langs Johnson se heining weggegooi. Veral die asfalt hope, wat kliphard en gans onbreekbaar is as dit uitgedroog is, is ‘n seeroog. Een só ‘n hoop is so naby aan die heining gestort dat dit ‘n halwe “brug” vorm waaroor Johnson se beeste maklik klim en so op die N1-snelweg beland.
‘n Hewige woordewisseling het tussen Johnson en die bestuurder van die voertuig uitgebreek toe Johnson hom konfronteer oor sy optrede. In ‘n stadium is Johnson ook deur die bestuurder gedreig met ‘n skroewedraaier.
‘n Klag is by die polisie gelê. Met dié dat die bestuurder toe ook sukkel om sy bakkie weer aan te sluit, is die bakkie op Johnson se aandrang tot by die Bandelierkop satellietstasie gesleep. Ten spyte daarvan dat Johnson daarop aangedring het dat die polisie beslag lê op die bakkie, sodat die saak verder ondersoek kan word, is die bestuurder laat gaan.
Johnson het intussen vasgestel dat sy saak teen die bestuurder oorgeplaas is na die Makhado kantoor van die SAPD. Kort ná die voorval het die bestuurder dáár 'n skulderkenningsboete van 'n R1 000 betaal. Daar word vermoed dat die rou riool van ‘n bouprojek in Matoks kom en op pad was na Makhado (Louis Trichardt) se rioolbehandelingsaanleg.
Teen druktyd kon plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike nie bevestig of dié saak wel na die stasie oorgeplaas is nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
