ADVERTISEMENT:

 

Me. Ria Langley is Vrydagaand vermoedelik met suur in die gesig gegooi deur 'n aanvaller. Haar oë is by die Zoutpansberg Privaathospitaal uitgespoel en sy moes ook behandel word vir brandwonde op haar gesig. Foto verskaf.

Vrou met "suur" gegooi

 

News  Date: 20 July 2012

 

‘n Vrou van Makhado (Louis Trichardt) moes Vrydagaand dringend mediese behandeling kry, nadat ‘n aanvaller haar vermoedelik met suur in die gesig gegooi het.

Vir mev. Ria Langley van Wolmaransstraat was Vrydag die 13de beslis ongelukkig. Net ná sewe die aand, het sy om haar huis gestap om ‘n glasdeur van buite oop te maak vir haar twee hondjies. Skielik het iemand haar van agter aan die arm gegryp en toe sy omkyk, word sy in die gesig gegooi met ‘n onbekende vloeistof, vermoedelik een of ander suur.

“My oë het dadelik begin brand. Dit het op my gesig en lyf ook gekom en ek het onmiddellik my hemp uitgeruk,” het Ria gesê. Sy sê sy weet nie hoe en wanneer sy die glasdeur oopgekry het nie, maar die hondjies het uitgekom en haar aanvaller het laat spaander. In haar haas na veiligheid, het Ria reguit in ‘n kas binne die huis vasgehardloop, omdat sy in daardie stadium niks kon sien nie.

Ria is na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem deur haar vriendin, me. Verna Smith, se pa, mnr. Herman Smith. Verna en Ria deel die huis.

“Terwyl dr. Anneke Malan haar oë uitgewas het, het sy letterlik gekrul van die pyn, maar nie ‘n woord geuiter nie,” het Herman gesê. Ria het ook salf vir haar gesig gekry.

Teen Dinsdagoggend kon Ria darem al uit die regteroog sien. Sy dra pal ‘n donkerbril, omdat enige lig haar oë laat pyn en traan. Die brandwonde op haar gesig was baie beter. “Die dokter het gesê dat as die pyn en die gebrek aan sig nie binne ‘n paar dae verbeter nie, ek ‘n oogarts sal moet gaan sien,” het Ria gesê.

Aangesien hul huisnommer nie duidelik sigbaar was nie, het die polisie eers na ‘n uur by die toneel opgedaag. Die volgende dag is die speurders uitgestuur. Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het by navraag bevestig dat ‘n saak van gewone aanranding deur die polisie ondersoek word. “Dit is die eerste geval van hierdie aard wat ek nog ooit teëgekom het,” het Sadiki gesê.

Dit is ook nie die eerste keer dat Verna en Ria deurloop nie. Die afgelope paar maande is hulle groot honde drie keer vergiftig, waarna hulle uitgesit moes word as gevolg van permanente skade. Hul motorbattery is ook al voor hul huis uit die motor gesteel. Ten spyte daarvan dat die plantegroei om die huis uitgedun is en ‘n palissade by die stoep opgesit is, is daar egter steeds boosdoeners wat pla. Hul vensters word ook gereeld gebreek.

“Ek sou verkies om te verhuis, as dit moontlik was,” het Ria gesê. Sy het inwoners gewaarsku teen hierdie soort van aanval.

Die polisie en Soutpansberg Dorpswag is ná die voorval versoek om dié probleemarea meer intensief te patrolleer. Herman het ook ‘n beroep gedoen op inwoners om hul huisnommers meer sigbaar te maak.

“Dit sal die polisie en die dorpswag in staat stel om moontlik lewens te red,” het Herman gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines