

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 July 2012
Riool weerskante, en in die middel is die drinkwater … ‘n Potensiële gesondheidsgevaar is waargeneem toe ‘n waterpyp op die Vondelingpad by Makhado (Louis Trichardt) op Saterdag, 14 Julie, gebars het.
Dié waterpyp voer water na die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis, asook na die omgewing van die munisipale stortingsterrein. Die lekkasie het ontstaan oorkant van die pad van die sogenaamde Eltivillas “riooldam”. Die Makhado Munisipaliteit het Maandag die pyp teenaan die pad oopgegrawe en so laat staan. ‘n Poel drinkwater het gevorm, skaars ‘n paar meter van ‘n stroom rou riool.
“Dit is al ‘n ou rioolprobleem. Hierdie moerasplante groei net waar daar genoegsame verrykte water is. Vleiland plantegroei groei net as toestande gunstig is,” het dr. Ben van der Waal, konsultant en afgetrede professor, wat daar naby woon, gesê.
Weerskante van die lekkasie is die rioolwater dus volop. “Dit moet glad nie so wees dat die riool en die waterpyp so na aan mekaar loop nie,” het Van der Waal gesê. Hy het gesê hy het gesien dat die waterpyp oopgegrawe is, maar dat die watertoevoer nie afgesluit is nie. “Dit is potensieel ‘n gesondheidsrisiko vir die tronk en die ander op die lyn. Hierdie is ‘n varswater pypbreuk, maar die omringende rioolwater kan in die pyp inloop. Hoe kry jy dit weer uit?” sê Van der Waal.
Van der Waal het amptenare van die maksimum-sekuriteit gevangenis by die lekkasie raakgeloop. “Die tronk het ‘n pyp en ‘n kraagstuk voorsien sodat die lekkasie reggemaak kan word. Die munisipaliteit het oopgegrawe en toe egter verdwyn. Die tronk het toe maar die pype weer teruggevat, sodat dit nie gesteel word nie,” sê Van der Waal.
Dinsdagoggend het vroue van die nabye stortingsterrein by die gat kom water skep. Hulle het gesê dat hulle niks water het nie en dat hulle met die water sal was, maar dit nie sal drink nie.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdagoggend gesê dat die watertoevoer intussen toegemaak is, terwyl hulle wag vir onderdele. “Ons beplan om die werk teen more [Woensdag] voltooi te hê,” het Bobodi gesê.
Dinsdagmiddag het die gevangenis se direkteur, mnr. Lazarus Ncongwane, geskakel en laat weet dat die munisipaliteit op die toneel is, maar dat hulle net eers gery het om onderdele te gaan kry. “Ons het ‘n baie goeie verhouding met die munisipaliteit en ons is in gesprek met hulle. Ons huiwer nie om hulle uit te help met onderdele nie. Ons het immers die grootste gevangenis in die provinsie,” het Ncongwane gesê. Hy wou nie kommentaar lewer oor die moontlikheid van kontaminasie van hul drinkwater nie.
“Vir nou maak ons staat op ons boorgat waar ons roetine watertoetse uitvoer en nog nooit probleme gehad het nie. Wat munisipale water betref, word ons geaffekteer soos almal in die dorp,” het Ncongwane gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
