

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 July 2012
‘n Vrou van Levubu het vandeesweek net-net gevangenisstraf vrygespring, nadat sy ‘n pleitooreenkoms met die Staat aangegaan het.
Die 32-jarige Anna Catharina Mullins, alombekend as Carien, het Dinsdag in die Streekhof in Makhado (Louis Trichardt) verskyn. Sy het oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n jaar R362 000 van haar werkgewer, Madikor Slaghuis (handeldrywend as Newco Meat), gesteel. Sy was in die maatskappy se diens vanaf April 2008 tot Maart 2009.
In dié jaar was sy aangestel as die maatskappy se enigste boekhouer en administratiewe beampte. As deel van haar pligte moes sy onder andere die kleinkas, salarisse, uitgawes en ander banksake hanteer.
Gedurende Maart 2009 het ‘n medewerker snuf in die neus gekry toe hy merk dat die maatskappy se boeke nie meer klop nie. ‘n Forensiese oudit het aan die lig gebring dat Mullins fakture se bedrae gemanipuleer het op die Pastel-boekhouprogram, nadat kliënte hulle bestellings betaal het. Mullins het ook in een geval versuim om ‘n werknemer se salaris oor te betaal.
Alhoewel Mullins van haar swygreg gebruik gemaak het, het sy wel by monde van haar regsverteenwoordiger in haar pleitooreenkoms die blaam verskuif en gesê “die werk [Madikor] het die versoeking daar gestel vir haar om die geld te steel.”
Ter strafversagting het Mullins se regsverteenwoordiger aangevoer dat sy as gevolg van haar optrede haar werk verloor het en sedertdien onder geweldige emosionele en finansiële druk verkeer. Mullins het glo ook haar eie lewe probeer neem.
Landdros Pat Cloete het tydens vonnisoplegging gesê dat Mullins vir haarself ‘n gat gegrou het en daarin gespring het. Hy het verder gesê dat die hof ‘n “dun leertjie”, met behulp van die vonnis, vir haar sal plaas in dié gat, maar dat sy hulp en ondersteuning van ander mense sal moet kry om dié leer uit te klim.
“As ons jou in die tronk gooi, wat jy eintlik verdien, gaan niemand daarby baat nie,” het Cloete gesê. “Die lewe in die tronk is nie so rooskleurig nie," het hy verder bygevoeg, voordat hy Mullins gevonnis het.
Mullins is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie weer dieselfde misdryf pleeg nie. Sy moet ook R100 000 aan Newco terugbetaal in maandelikse paaiemente van R1 666.67. As sy 'n paaiement oorslaan, sal sy summier gearresteer word.
Mullins was wasbleek tydens haar vonnis en het gesukkel om haar trane terug te hou.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
