ADVERTISEMENT:

 

"Skattige" Kia Sportage wys staal by 4x4-ekspedisie

 

News  Date: 04 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente se sewende jaarlikse 4x4-ekspedisie het die afgelope naweek weer vir 'n onvergeetlike ervaring gesorg met talle van die streek se 4x4-entoesiaste wat 'n iewat nat en modderige Soutpansberg aangedurf het.

Soos oudergewoonte het ekspedisiegangers reeds Donderdagaand by die Manavhela Ben Lavin Natuurreservaat vergader, vanwaar hulle die volgende oggend vetrek het. Deelnemers het egter eers op Louis Trichardt aangedoen vir 'n smaaklike ontbyt wat voorberei is deur die gemeente se Eva-groep.

Daarna het dit tyd geword om man en muis van mekaar te skei en die konfooi vierwielaangedrewe voertuie van verskillende fabrikate, onder begeleiding van Twiggy Coetzee, is die berg in met Kamp Mangwele as hul eerste stop. Sowat 20 kilometer vanaf Louis Trichardt op die Witvlag-pad het die konfooi afgedraai in die rigting van Kunda. 'n Modderige grondpaadjie deur skouspelagtige natuurskoon het die groep uiteindelik weer by die teerpad uitgebring, net om vyf kilometer verder af te draai in 'n droë rivierloop van die Njelelerivier. Met vele gesukkel in 4x4-laestrek was die konfooi weer op vaste grond, net om weer die rivier binne te gaan. Ure later en sowat 'n kilometer verder het die groep aangesluit by die grondpad na Kamp Mangwele waar daar oornag is.

Kamp Mangwela het aan deelnemers die geleentheid gegee om die ergste modder, sand en sweet af te was. Die kamp word gekenmerk aan hoë kranse en 'n dipe kloof wat bokant die kamp uit troon en almal was eens dat Mangwela 'n onvergeetlike ervaring gebied het. Dit was ook hier waar deelnemers meen hulle het die aand die lekkerste potjiekos ooit geeët.

Saterdag het helder en met sonskyn aangebreek. Die konfooi is teen Mambaspas uit en deur Khaku met Fundudzi as bestemming. Die modder het egter gou selfs die mees vaardigste 4x4-geesdriftige baasgeraak en einde laaste moes twee kinders ('n jong seun en dogter) vir die oumanne wys hoe om 'n Landrover te bestuur. Die groep het later die middag weer teruggekeer kamp toe waar die oumanne weer op hulle beurt vir die kinders gewys het hoe om jou boudvelle deur te gly op die gladde klippe in die rivier. Die dag se verrigtinge is na twee ure se "waterkaskenades" afgesluit met aandete. Na 'n oggendswen, het deelnemers die volgende dag weer teruggekeer na Louis Trichardt.

Soos gebruiklik het verskeie van die dorp se 4x4-handelaars weer ingeskryf vir die kompetisie om te bepaal wie sê voertuig nou eintlik die beste is. Dié trofeë het vir die tweede agtereenvolgende jaar gegaan aan Kia.

"'n Mens staan verwonderd oor die vedlryvermoë van hierdie oulike klein voertuig. Die Kia Sportage lyk eenvoudig net te skattig om te dink hy kan sulke vreemde plekke uitgaan. Hy het letterlik nooit gesukkel nie. Deur klippe, oor die gate, deur die modder, sand en veld was hy onstuitbaar – en dit vir die tweede goedkoopste motor met 'n laestrekverhouding in die oordrakas," aldus ds. Philip Venter (organiseerder).

Ds. Philip en sy span organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor almal wat die ekspedisie 'n werklikheid help maak het, insluitend S&S Bande, B&S Onderdele, Autozone, Coca-Cola Fortune, Fruit & Veg City, Kia Motors, Johan van Speedbrake en Ben Wolff by Team Car Spares.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines