ADVERTISEMENT:

 

Besigheidsman voor plaashek beroof

 

News  Date: 04 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Plaaslike besigheidsman, die 41-jarige mnr. Leon Furstenburg, het Dinsdag (1ste) ternouernood aan die dood ontkom, toe hy deur 'n groep gewapende mans voor sy plaashek van ondermeer sy bakkie en 'n groot hoeveelheid kontant beroof is.

Leon, wat 'n privaat hoenderboerdery bedryf op sy plaas sowat ses kilometer buite Louis Trichardt op die Thohoyandou-pad het, het Dinsdag omstreeks 02:00 vanaf Thohoyandou teruggekeer waar hy hoenders gaan aflewer het.

Met sy aankoms op die plaas, het hy opgemerk dat die plaashek, wat gewoonlik oop is, toegemaak is. Hy het skaars uitgeklim om die hek oop te maak, toe 'n man skielik vanuit die donker nader storm en in sy bakkie spring.

Leon het na sy bakkie gehardloop en probeer om die deur oop te ruk. Dit was toe dat hy 'n stem agter hom hoor. Met die omdraaislag het hy twee gewapende mans agter hom gewaar. Die een het uiters senuweeagtig voorgekom en hom deurlopend gedreig met die dood. Oomblikke later het hulle agter op sy bakkie gespring, waarna 'n vierde verdagte vanuit die bosse op die bakkie geklim het. Hulle het toe op die vlug geslaan.

Leon het dadelik na sy woning gehardloop vanwaar die polisie ontbied is. Intussen het hy in sy vrou se voertuig gespring en die mans agterna gesit. Hy het omstreeks 03:30 die oggend sy verlate bakkie op die Witvlag-pad gevind. Daar was egter geen teken van die aanvallers nie, asook nie van die geld wat hy gemaak het uit sy verkope en sy vuurwapen nie.

Teen druktyd is daar nog niemand in verband met die voorval aangekeer nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines