ADVERTISEMENT:

 

Wyle Oom Corrie Jooste (84). Foto verskaf.

Geliefde oom Corrie Jooste oorlede

 

News  Date: 27 July 2012

 

Die welbekende en geliefde oom Corrie Jooste van Makhado (Louis Trichardt) is Saterdag, 21 Julie, in die ouderdom van 84 jaar hier oorlede.

Wyle Oom Corrie is in Oktober 2009 met maagkanker gediagnoseer, maar het sterk aangegaan. Op 25 Mei vanjaar het hy egter geval en sy heup gebreek, waarna sy gesondheid stelselmatig agteruit begin gaan het.

Oom Corrie is in 1928 op Belfast gebore en alhoewel hy sy skoolloopbaan op Duiwelskloof begin het, was hy vir die grootste gedeelte van sy skooljare in Louis Trichardt. Ná skool begin hy as motorwerktuigkundige werk saam met wyle oom Bazil Thompson.

In 1950 word hy na Messina verplaas en in 1951 begin hy by die destydse MTD (Messina Transvaal Development) myn werk. Hier ontmoet hy sy vrou, Jeanette, en tree in 1952 met haar in die huwelik. Twee seuns, Kleintjie en Theuns, word uit die huwelik gebore.

Die Jooste-egpaar bly vir 30 jaar in Messina, maar besluit om in 1984 na Oom Corrie se aftrede na Louis Trichardt te verhuis. Hier aangekom het hy ‘n plot gekoop waar hy tot met sy afsterwe gewoon het.

Oom Corrie het in ‘n stadium ook kontrakwerk gedoen vir die Shell oliemaatskappy en was veral bekend vir sy liefde vir die geskiedenis, asook navorsing oor die Anglo Boere Oorlog en Soutpansberg Skermutselingsroete, in samewerking met plaaslike historikus Charles Leach. Hy was baie lief vir mense en het baie graag by ou vriende en inwoners van Ons Tuiste gaan kuier. Sy tuin en sy vetplante was sy grootste trots.

Wyle Oom Corrie se begrafnisdiens vind eerskomende Vrydag (27ste) om 12:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente plaas. Hy word oorleef deur sy vrou, Jeanette, seun Kleintjie, skoondogter Riana, kleinkinders Corrie, Bennie, Danie, Theuns en Corné, en agterkleinkinders Jeanette, Theunis, Zandré en Luaan.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor al die vriende en kennisse vir hul oproepe en boodskappe van vertroosting. Hulle het egter ‘n spesiale woord van dank gerig aan ds. Jan en ds. Corné, dr. Casper Venter, Martin’s Funerals, Tannie Irene, die Kanker Omgeegroep (Marie en Cornelia), Alida Pretorius en die NG Moedergemeente vir die gebruik van die saal vir die begrafnisdiens.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines