

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 July 2012
AfriForum se regspan het konsepdokumente vir moontlike regsaksies oor die waterkrisis in Makhado (Louis Trichardt) en omgewing aan die nuutgestigte AfriForum-tak hier deurgestuur.
Mnr. Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Gauteng en Limpopo, het as spreker opgetree tydens die stigtingsvergadering van die tak wat deur digby die 200 mense bygewoon is. Om die tak te kon stig, moes ‘n minimum van 50 lede die vergadering bywoon en aansluit.
‘n Bestuurskomitee is gekies, met mnre. Wally Schultz en Herman Smith as voorsitter en ondervoorsitter. Ander lede is mnr. Phillip Olivier (sekretaris), mnr. Chrisjan van den Berg (tesourier) en addisionele lede dr. Ben van der Waal, mnr. Lampie Schoeman en mnr. Dave Patel.
Schultz het Dinsdag gesê dat die opkoms by die takstigtingsvergadering verblydend was. Hy het bevestig dat hulle reeds voorbereidende dokumente vir regsaksies vanaf AfriForum se regspan ontvang het, maar dat die komitee later in die week vir die eerste maal sou ontmoet en eers deeglik deur die inhoud wou werk.
“Hierdie is so ‘n belangrike en sensitiewe saak dat ons dit korrek wil doen,” het Schultz gesê. Tydens die vergadering het Esterhuizen gesê dat die regspan van AfriForum al teen 20 Julie opdrag kon ontvang om te begin met regstappe teen die munisipaliteit, indien ‘n tak gestig sou word.
“As daar nie water is nie, moet die munisipaliteit gedwing word met ‘n dringende tussentydse hofaansoek, waarna met ‘n siviele saak voortgegaan sal word. Die stelselswet sê dat die munisipale bestuurder verplig is om basiese dienste te lewer. Ons het te gewoond geraak aan ‘n lae standaard. Gemeenskappe word toenemend onder druk geplaas omdat munisipaliteite nie hulle werk doen nie,” het Esterhuizen gesê en bygevoeg dat regsfondse gewoonlik in gemeenskappe ‘n leemte is. AfriForum se regspan is daar om regsake te behartig.
Esterhuizen het gesê dat AfriForum 43 000 lede landswyd het en dat daar reeds 85 takke gestig is. Afriforum is ‘n onafhanklike deel van die Solidariteit Beweging en staan gemeenskappe by in sake wat oor veiligheid, dienslewering, omgewingsake en kultuurerfenis handel. Hulle fokus op die beskerming van grondwetlike regte, maar hanteer nie individuele klagtes nie, eerder sake van breër belang. Die R30 ledegeld help AfriForum om regsake te behartig, met R15 daarvan wat aan die plaaslik tak terugbetaal word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
