ADVERTISEMENT:

 

Die Staat het ook beslag gelê op vuurwapens, ammunisie en R40 000 kontant wat aan Jacques Els behoort het. Foto: Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Staat vat R11 miljoen se bates van Els

 

News  Date: 27 July 2012

 

‘n Taakspan het verlede week op die veroordeelde Jacques Els (39) se plaas toegeslaan en R11 miljoen se bates opgeskryf.

‘n Gesamentlike taakmag, wat bestaan het uit die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) se batebeslagleggingseenheid, die Valke se bedreigde spesie-eenheid en amptenare van die Departement van Omgewingsake, het verlede Vrydag op Els se plaas Doornhoek naby Thabazimbi op sy bates beslag gelê.

Els het sowat drie weke gelede sy agt jaar gevangenisstraf by die staatsgevangenis in Makhado (Louis Trichardt) begin uitdien, nadat sy aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis afgekeur is. Hy is in Maart vanjaar in die Louis Trichardt Streekhof tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan twee jaar opgeskort is.

Daar is Vrydag op Els se plaas, Toyota Fortuner en Hilux bakkies, sleepwa en ‘n BMW motorfiets beslag gelê. Die taakspan het ook op R40 000 kontant, jaggewere en ammunisie, twee vierwielmotorfietse en ander huishoudelike items beslag gelê.

Die staat het ook beheer geneem oor Els se Standard Bank en Absa rekeninge, asook sy 50%-aandeel in die beslote korporasie Dalton Imports en sy 25%-aandeel in die beslote korporasie East Buffalo Breeders. Volgens inligting het Dalton Imports wildsvleis na Viëtnam uitgevoer en sement vandaar ingevoer na Suid-Afrika.

Els het skuldig gepleit op klagte wat verband hou met die onwettige besit en handeldryf van 38 geoeste renosterhorings. Dié horings is nooit weer teruggekry nie, nadat Els getuig het dat dit op sy plaas gesteel is terwyl hy met vakansie was. Bo en behalwe sy gevangenisstraf, moet Els ook R1 miljoen aan die Groen Skerpioene betaal as deel van sy straf.

Intussen word Els in die gevangenis behandel vir ‘n maagseer. Sy advokaat is ook besig om ’n dringende aansoek af te handel om by die Hooggeregshof in Pretoria in te dien om Els se borgtog van R300 000 te verleng, hangende ‘n petisie teen sy vonnis.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines