ADVERTISEMENT:

 

“Dit was vir 64 jaar my apteek,” het ´n hartseer kliënt gesê toe Beck’s Apteek in Kroghstraat op 23 Junie vanjaar finaal sy deure gesluit het en na Clicks verhuis het.

Dit was vir 64 jaar my apteek ...

 

News  Date: 30 July 2012

 

Beck's Apteek in Makhado (Louis Trichardt) soos inwoners dit vir meer as 'n halfeeu geken het, is nie meer daar nie.

“Dit was vir 64 jaar my apteek,” het me. Hester Venter (82) gesê toe die apteek in Kroghstraat op 23 Junie vanjaar finaal sy deure gesluit het. Tannie Hester onthou nog hoe sy medisyne vir haar trousseau gaan koop het vóór haar troue met wyle oom Fanie in 1948, toe die apteek nog aan die eerste apteker, mnr. R.J. Kuter, behoort het.

Mnr. Otto Beck, apteker sowel as oogkundige, het die apteek in 1948 by Kuter gekoop en die naam na Beck’s apteek verander. In daardie dae was daar slegs twee apteke in die dorp, Beck’s en Weldon’s. Mnr. Timothy Beck, een van mnr. Beck se vier seuns, onthou dat Weldon’s eerste daar was.

“Natuurlik was mnr. Herby Weldon nie te gelukkig oor die nuwe apteker daar naby nie, maar nadat mnr. Weldon ‘n hartaanval gehad het en maande siek was, het dinge verander. Die rede daarvoor was dat hy teruggekom het en gesien het dat iemand al sy voorskrifte vir hom gedoen het en hy niks verloor het nie. My pa het dit stilletjies vir hom gaan doen,” het Timothy vertel.

Die wonderlike nuus is dat oom Otto Beck reeds sy 100ste verjaarsdag op 9 Junie 2010 gevier het en steeds redelik gesond is op 102 jaar, ten spyte van 'n gebrek aan gehoor en visie. Hy woon in Johannesburg.

Tannie Babs Botha (84) was een van die bekende gesigte by Beck’s apteek en het vir 34 jaar daar met die rekenings gewerk. Tannie Babs vertel van die tyd dat mnr. Beck aan mnr. Piet Myburgh verkoop het en hy weer aan mnr. Awie Smit, wat aan die laaste eienaar en apteker, mnr. Leon Bezuidenhout, verkoop het.

Leon het mnr. Beck geken en sê dat dié ‘n regte platjie was.

“Daardie dae het die aptekers nog baie mengsels aangemaak. Hulle het die poeiers in grootmaat aangekoop en afgemeet, waarna hulle dit dan opgelos het in water. Partykeer het daar ook maar ‘n ou vuiligheidjie ingesluip. Mnr. Beck het een keer so ‘n mengsel aangemaak en aan ‘n pasiënt gegee. Dié het dit terug gebring en ontsteld gesê dat daar iets in sy mengsel dryf. Mnr. Beck het die bottel teen die lig gehou en dit stadig heen en weer gedraai. Toe sê hy vir die kliënt: ‘Toemaar, ek sal jou niks ekstra daarvoor vra nie!’” vertel Leon, en noem dat Oom Otto dié staaltjie persoonlik vir hom vertel het.

Nadat Leon aptekerswese by die destydse Potchefstroomse Universiteit gestudeer het, het hy sy vakleerlingskap in 1967 en 1968 by Beck’s gedoen, min wetende dat hy nog die eienaar van dié apteek sou  word.  As apteker het hy baie vriende gemaak, ook oor kultuurgrense heen. Hy het baie dinge in die dorp gesien verander.

“Mnr. Solly Noor se winkel was net om die hoek, voordat die Indiërwinkels later uitgeskuif het en nog later een vir een teruggetrek het dorp toe. Kroghstraat was die hoofstraat en het met ‘n draai reg deur die dorp geloop,” vertel Leon.

Na 34 jaar het Leon besluit om die apteek aan Clicks te verkoop, omdat hy ‘n baie goeie aanbod gekry het. Clicks het hom ‘n kontrak van twee jaar aangebied, waarna hy moontlik nog daar sal aanbly as apteker. Hy bedank al sy getroue kliënte en personeellede.

“Dit voel vreemd dat daar nie meer ‘n Beck’s Apteek is nie,” sê tannie Hester. “Dit is ‘n bietjie hartseer om te dink dat hierdie skakel met die verlede nou weg is," het Timothy opgemerk.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines