

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 July 2012
Shefeera Timbers in Makhado (Louis Trichardt) het die afgelope naweek ook die prooi geword van ‘n bende wat springstof gebruik het om hul kluis oop te skiet.
Saterdagoggend is Shefeera se personeel begroet deur ‘n opgeblaasde geldkluis. Buiten duisende rande wat vermis was, was daar ook heelwat geldnote wat deur die ontploffing flenters geskiet is. By nadere ondersoek kon daar vasgestel word dat die diewe drie gate in die dak van die kantoor gemaak het. Die alarmstelsel het tydens dié proses afgegaan, maar is vinnig deur die booswigte gedeaktiveer.
Daar word vermoed dat die diewe van plastiese springstof gebruik gemaak het, wat hulle deur die sleutelgat van die kluis gedruk het. Gemeet aan die hoeveelheid geld wat flenters geskiet is, blyk dit dat die bende dalk bietjie te veel springstof gebruik het.
Dié insident by Shefeera herinner sterk aan soortgelyke diefstalle wat sedertdien die begin van die jaar by verskeie besighede in Makhado (Louis Trichardt) aangemeld is. Besighede wat deurgeloop het sluit in NTK/Landmark (twee keer), PJ Timbers, Danedie, Steyn Staal en Ocean Basket. Buiten vir Ocean Basket, is die ander besighede se kluise met springstof oopgeskiet, nadat die boewe toegang tot die persele verkry het deur gate in die dakke te sny.
Makhado polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het bevestig dat 'n saak van diefstal ondersoek word en dat die provinsiale bomopruimingspan die misdaadtoneel besoek het. Teen druktyd is nog geen arrestasies gemaak nie.
Sadike het inwoners met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, versoek om die speurders te bel op Tel. 082 319 9638.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
