ADVERTISEMENT:

 

'n Pluimpie vir 'n klein koerantjie

 

News  Date: 27 September 2002

 

JOHANNESBURG - Die Zoutpansberger het Vrydag (20ste) gewys dat dit kan kers vashou by van die land se top gemeenskapskoerante, deur twee toekennings op te raap tydens die twaalfde jaarlikse Sanlam Gemeenskapsperstoekennings.

Die Sanlam Gemeenskapsperstoekennings word gehou om erkenning te gee aan gemeenskapskoerante wat uitsonderlik presteer. Vanjaar is 1 502 individuele inskrywings van 312 joernaliste wat 112 koerante verteenwoordig, ontvang. Dit het ook 846 foto-inskrywings ingesluit. Die prysuitdelingsfunksie het by die Indaba Hotel in Sandton plaasgevind.

Wat die Zoutpansberger betref, palm die koerant ‘n landswye eerste plek in vir Beste Voorblaaie in die kategorie vir Dorpskoerante. Daarbenewens behaal die Zoutpansberger se nuusredakteur, Andries van Zyl, ‘n landswye tweede plek in die kategorie vir Kontreinuus en eindig hy ook algeheel sesde in die kategorie vir nuusfotografie.

Buiten vir die Zoutpansberger, het nog twee van die streek se koerante goed presteer. Die Northern Review en Capricorn Voice van Polokwane eindig onderskeidelik eerste en tweede in die kategorie vir Beste Voorblaaie vir betaalde koerante met ‘n sirkulasie onder 8 000 per week. Buiten hiervoor behaal Hennie Smit (Northern Review) ‘n derde plek in die kategorie vir Ondersoekende Joernalistiek, asook ‘n derde en tweede plek in onderskeidelik die kategorië vir Plaaslike Regering en Stoepstories.

Die toptoekennings tydens Vrydag se Sanlam Gemeenskapsperstoekennings het egter vanjaar gegaan aan Samantha Wade van die Newcastle Advertiser wat as Joernalis van die Jaar aangewys word. Johannes Vogel van die publikasie, Ontbloot, word op sy beurt aangewys as Persfotograaf van die Jaar.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines