ADVERTISEMENT:

 

Al die personeellede van die skool is gedurende die middae van 18 en 19 Julie by Northgate Lodge deur mnre. Johnny Louw en William Loedolff van Character for Life opgelei en tree nou as deel van die “karakterrewolusie” op ter wille van die morele restorasie van die mense van Suid-Afrika. Foto verskaf.

Skool ernstig oor morele restourasie

 

News  Date: 06 August 2012

 

“Wees die beste persoon wat ek kan” (Be the best me I can be) is die naam van ‘n lied wat spesiaal geskryf en getoonset is vir die karakterrewolusie by  Laerskool Louis Trichardt.

Die skool neem deel aan ‘n intensiewe veldtog om waardegedrewe te lewe. Laas Dinsdag het past. Grant Clifton en sy span die lied wat hy gekomponeer het, vir die kinders in die saal gesing. Hierdie lied bevat al sewe die waardes wat op verskeie maniere by die skool aangespreek word. Die waardes is omgee, betroubaarheid, respek, verantwoordelikheid, regverdigheid, goeie burgerskap en geloof.

Eliz-Mari Pretorius (9) het na afloop van die saalbyeenkoms gesê dat sy baie van die liedjie gehou het. “Ek het ook van die papegaai gehou. Hy bly in ‘n huis waar hulle nie vir hom lelike goed leer nie,” het Eliz-Mari gesê.

Dodo, die jong African Grey, het saam met sy eienaar, Jamy Jonker, en me. Natasha Mostert gekom. “Dodo kan net woorde leer wat hy by Jamy hoor. Sy is in beheer van Dodo se karakter,” het Mostert, wat deel vorm van die Character for Life-span, gesê.

Die skool se personeel is gedurende die middae van 18 en 19 Julie by Northgate deur mnre. Johnny Louw en William Loedolff van Character for Life opgelei en tree nou as deel van die “karakterrewolusie" op ter wille van die morele restourasie van die mense van Suid-Afrika.

“Omgee is die eerste waarde  waaraan ons ‘n praktiese projek koppel. Omgee sluit in liefde, barmhartigheid, empatie, sagmoedigheid, vriendelikheid, vergifnis en dankbaarheid. Ons het dr. Casper Venter gevra om vir die kinders ‘n visuele aanbieding van sy fietstog te gee, want hy het dit gedoen uit omgee vir die plaaslike kankerpasiënte,” het me. Stienie Fourie, adjunkhoof van menslike hulpbronne, gesê.

Dr. Venter het die epiese bergfietstog van 2300km vanaf Pietermaritzburg tot by Diemersfontein, naby Wellington, voltooi. Alle donasies vir sy rit gaan na die Makhado Sorggroep wat plaaslike kankerpasiënte ondersteun. Hyself het net ‘n Basotho-kombers as beloning vir die tog gekry.

“Dat dr. Venter so ver gery het om mense met kanker te ondersteun, gee my ‘n heel nuwe respek vir die dokter. Dit wys hoeveel jy kan insit en hoe hard jy kan werk om ander te help,” het Chris van Wyk (13), die skool se hoofseun, gesê. Beide Chris en Eliz-Mari sê dat hulle nou meer wil omgee. Die kinders van die skool het soos een man hulle hande opgesteek toe daar gevra is wie ‘n R10 plakker gaan koop. Die fondse gaan aan die Makhado Sorggroep.

Diegene wat ook hul omgee wil toon deur by te dra vir die Makhado Sorggroep, kan me. Jernay McLeod van die Makhado Sorggroep by 083 403 5752 skakel, of me. Stienie Fourie by 072 552 9106 of 015 516 5151.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines