

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 August 2012
Die Makhado Munisipaliteit het die afgelope drie jaar geen waardasie van eiendomme in Makhado (Louis Trichardt) gedoen nie, wat beteken dat huiseienaars nou weens die swak eiendomsmark dalk te veel eiendomsbelasting betaal.
“Diegene wie se eiendomme te hoog gewaardeer is in 2009, put nou geen voordeel uit die resessie tydperk waarin die markwaarde van eiendomme meestal verlaag het nie,” sê die Soutpansberg Belastingbetalers-vereniging (SBBV) se eiendomspesialis, me. Jana Smith.
Smith, wat al die afgelope 30 jaar in die eiendomsbedryf is, ken haar huispryse en het al baie op-en-af markte beleef. “Die huiseienaars betaal nou belasting op grond van die markwaarde waarvoor die huis aan die einde van die bloeitydperk gewaardeer is. Dit is absurd dat die waardasie vir vier jaar dieselfde bly,” sê Smith.
Diegene wat aan die kortste end trek, is dié huiseienaars wie se huise in die bloeitydperk te hoog gewaardeer is.
“In skuldbult is seker 90% van die eiendomme te hoog gewaardeer. In die nuwe uitbreiding is 80% van die huise onderwaardeer. In die dorp self was die waardasie chaos. Tussen skuldbult en Rissikstraat is party eiendomme reg gewaardeer, party te veel en party te min. ‘n Goeie huis in ‘n swakker deel trek tans voordeel,” sê Smith.
Mnr. Hennie Knoesen, eiendomsagent van Realty 1, stem saam dat die 2009 waardasie sekere eiendomme se waarde omgeswaai het. “Een eiendom van byvoorbeeld R1 miljoen werd, is sommer gewaardeer vir R3 miljoen en dan is ‘n ander eiendom van R1 miljoen weer vir R800 000 gewaardeer,” sê Knoesen. Hy is van mening dat ongeveer 50% van die nuwe uitbreiding se eiendomme te laag gewaardeer is.
Me. Hettie Roets, prinsipaal van Anhetico Eiendomme, sê dat die huispryse na 2009 afwaarts gedraai het. “Ons het in 2009 byvoorbeeld ‘n huis vir R3.5 miljoen in skuldbult verkoop en in die nuwe uitbreiding vir R1.2 miljoen. Daarna het die mark gedraai. Ons beste verkope tans is tussen R700 000 en R900 000, want die banke staan moeilik lenings toe,” sê Roets. Realty 1 se Knoesen sê dat die peperduur eiendomme baie lank in die mark bly.
“Die markwaarde is die prys wat ‘n gewillige koper sal betaal vir ‘n eiendom as dit vandag op die ope mark geplaas word,” verduidelik Smith, wat ook Harcourts se prinsipaal is. Sy het destyds gesprekke met die munisipaliteit gehad om ‘n korrekte markwaardasie te beding. Die wyse waarop die Makhado Munisipaliteit die waardasie hanteer het, was uiteraard een van die kernpunte van die dispuut wat die belastingbetalers met die munisipaliteit verklaar het. In 2009 was daar die verwarring toe die munisipaliteit die eiendomstariewe terugwerkend wou maak.
In Januarie 2011 het die SBBV tydens ‘n vergadering met die munisipaliteit daarop aangedring dat die eiendomswaardasie oorgedoen moet word. Die munisipaliteit het die destydse voorsitter, mnr. Frans Prinsloo, gevra of hulle die eiendomswaardasie kan uitstel tot 2012. ‘n Waardasie sou in 2011 ‘n ekstra koste van R5 miljoen vir die munisipaliteit meebring. Tydens dieselfde vergadering het mnr. Solly Maanu, steeds ondervoorsitter van die SBBV, aangedring op bepaalde voorskrifte, soos ‘n kundige plaaslike waardeerder.
Op ‘n vraag aan die Makhado Munisipaliteit wanneer die volgende waardasie sal plaasvind, het munisipale woordvoerder Louis Bobodi geantwoord dat hy nog wag vir inligting daaroor. ‘n Bron na aan die Stadsraad het gemeen dat die volgende waardasie in 2013 sal plaasvind.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
