

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 September 2002
LOUIS TRICHARDT- 'n Klein, wit perspex kruisie met 'n steekspeldjie word hierdie week beskikbaar gestel vir belangstellendes wat dit veral tydens Christusweek (30 September tot 5 Oktober) as 'n lapelwapentjie wil dra.
Saam met elke kruisie word 'n kaartjie met spasie vir 'n gebedsversoek gegee. Op die keersy is die besonderhede van die Christusfees. Die gebedsversoeke moet ingehandig word by die fees voor 17:30.
Die terrein waar die fees aangebied sal word, het verskuif na 'n groter terrein met meer fasiliteite. Die Christusfees sal op Triegiepark, die rugby- en atletiekveld van Hoërskool Louis Trichardt, aangebied word.
Die Christusweek vorm die aanloop tot die Christusfees op 5 Oktober wat vanaf 15:00 tot ongeveer 21:00 sal duur. Gedurende dié fees sal die 24-meter hoë kruis op 'n koppie noord-wes van die dorp vir die eerste keer verlig word.
Die reëlings vir die Christusfees is reeds in volle swang.
Buiten die gesogte gaskunstenaars Willie Joubert, Melanie en die sangpaar, Charl en Cecile, word daar 'n aanskoulike en luisterryke fees voorberei. Plaaslike groepe en soliste sluit in verskeie koordansgroepe, 'n jeug lofprysingsorkes, die Soutpansberg Laerskoolkoor, die Timothy sangers, die Royal Macadamia koor, die Amazing Grace Praise and Worship Group, Sonette Gouws en Niel van der Merwe, Juandri Coetzee, Barry Hayward en Eldanny Elsar. Feesgangers is nie net toeskouers nie, maar sal ook kan deelneem aan die lofprysing en aanbidding.
Die organiseerders vra dat die feesgangers sal opdaag met kers, kombers, stoel en sambreel. Die pawiljoene sal dien as sitplek asook die gras vóór die verhoog wat op die veld opgerig sal word.
Die kruis lapelwapen sal teen kosprys (R4) beskikbaargestel word by verskeie besighede en kerke. Vir enige navrae kan die volgende persone geskakel word: Dries (083 444 8324), Anneke (083 326 6073), Chris (082 323 3612) of Johan (084 588 2014).

ADVERTISEMENT:
