ADVERTISEMENT:

 

'n Drankie saam met vriende kan gevaarlik wees

 

News  Date: 27 September 2002

 

LOUIS TRICHARDT – "Jy is nie regtig by magte om te besluit dat jy nooit verslaaf gaan word aan alkohol of ander substansies nie." Dit was die waarskuwing van die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) tydens 'n ope vergadering op 18 September by die Ferdie Beyerssaal.

Mnr. Hennie Bezuidenhout, voorsitter van die CAD, het verduidelik dat drank by sosiale byeenkomste baie mense laat struikel. Hy sê dat die eerste fase van alkoholisme, naamlik die sosiale fase, 'n uiters gevaarlike fase is.

"Daarna volg die kritieke stadium, waarin 'n mens drink totdat jy 'n bobbejaan van jouself maak. In die chroniese stadium gee jy nie meer om nie. Daarna breek die punt van geen terugkeer (menslik gesproke) aan waar die dood vir jou voorlê."

Mnr. Bezuidenhout nooi enige persoon wat wonder of hy of sy reeds 'n probleem met alkohol of 'n ander substans het, om met die CAD in verbinding te tree. Familielede of vriende wat oor iemand bekommerd is, kan hulle ook kontak en ondersteuning kry oor hoe om die kommunikasiekanaal met die persoon oop te hou.

Dr. Anton Stroebel het 'n baie duidelike uiteensetting gegee van die impak van alkohol, rook en dwelmmiddels op die liggaam en sy organe. Hy het verder gesê dat psigiese afhanklikheid (die intense drang of sogenaamde "craving" na die middel) by al vier groepe verslawingsmiddels teenwoordig is. Die vier groepe is senuweestelsel onderdrukkers (byvoorbeeld opiate, heroïen en alkohol), slaap- en susmiddels, stimulante (soos amfetamine en kokaïene) en hallusinogene (soos LSD en dagga). Fisiese afhanklikheid kom veral by die eerste groep voor en in die geval van alkohol is dit lewensbedreigend.

"Die probleem met die verslawingsmiddels is toleransie, met ander woorde wat vandag genoeg is, moet môre verdubbel. Dan word ander middels bygebring. Om gedrag egter te verander, moet besef word dat alle gedragsverandering in 'n mens se kop begin," het dr. Stroebel gesê.

Dr. Phillip Venter het 'n reëling getref dat die CAD 'n geleentheid sal kry om hul waardevolle kennis met die jeug van die gemeenskap te deel.

Die CAD kan gekontak word deur Maggel Bezuidenhout (CAD sekretaresse) te skakel by 083 253 5173.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines