ADVERTISEMENT:

 

Wyle Magriet Hoare-Palmer (54).

Magriet se skielike dood kom as skok

 

News  Date: 10 August 2012

 

Magriet Hoare-Palmer (54) se skielike dood het skokgolwe deur die Soutpansberg-gemeenskap gestuur. Haar dood, na ‘n kort siekbed, kom slegs nege maande na die afsterwe van haar eggenoot, Ivan senior.

Die gemeenskap se harte gaan uit na Ivan (28) en Maxwill (26),  wat agtergelaat word.

Magriet was sedert Desember 1990 in Makhado (Louis Trichardt) woonagtig en het die afgelope 13 jaar by Peka Rekenaars van Hennie en Ilze Coetzee gewerk.

"Ons sal haar onthou as 'n mens-mens. Sy het die spreekwoordelike hart soos 'n taxi gehad … daar was altyd tyd en plek vir nog een ... sy het daardie ‘eksta myl’ vir baie van ons geloop. Sy het dinge, ook daardie dinge wat nie haar verantwoordelikheid was nie, met sorg en deeglikheid en sonder 'n sug gedoen,” sê Hennie, wat ook deel vorm van die Soutpansberg Atletiekklub. Dié klub het onderneem om Dinsdagmiddag verby Magriet se huis te hardloop en elkeen ‘n blom daar neer te sit, ter herinnering aan alles wat sy onbaatsugtig vir hulle en die Comrades-atlete gedoen het.

“Sy was 'n voorbeeld vir baie van ons. Sy was iemand wat jou oor die vingers kon tik as dit moes, maar jy kon opkyk na haar as 'n vrou met hoë waardes en standvastige Christelike beginsels. As sy besluit het om betrokke te raak, was dit nie halfhartig nie, dit was met oorgawe en toewyding,” sê Hennie.

“Magriet was oral bekend en bemind. Sy het altyd 'n bemoedigende woord, glimlaggie of drukkie gehad vir een en almal, en ras of kleur het nie by haar saakgemaak nie,” sê haar familie.

Magriet, gebore op 17 Julie 1958, is Maandag, 6 Augustus, in die Zoutpansberg Privaathospitaal aan ‘n aneurisme oorlede.  Haar gedenkdiens sal Vrydag,10 Augustus, om 11:00 by die Lede in Christus Kerk deur pastoor Fanie Redelinghuis waargeneem  word.

Die familie bedank graag vir Hennie en Ilze vir hulle liefde en hulp en vinnige optrede, wat meegebring het dat hulle nog 'n paar dae saam met Magriet kon wees, dr. Cathryn Maritz vir al haar liefde en finansiële bystand, dr. Casper Venter vir sy onbaatsugtige diens, die Zoutpansberg Privaathospitaal vir hul liefdevolle versorging van Magriet en hul eindelose geduld met familie en vriende.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines