

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 August 2012
Nog drie bewaringsorganisasies het toegetree tot die stryd om die Limpopo-vallei van “totale vernietiging te red”.
BirdLife Soutpansberg, Vriende van Blouberg en die bestuur van die Blouberg Natuurreservaat het in ‘n beswaarskrif hul griewe gelug oor honderde kilometers Eskom-kraglyne wat vir die provinsie beplan word.
Eskom, die staatsbeheerde nasionale elektrisiteitsverskaffer, het aan die begin van die jaar aangekondig dat hulle twee nuwe 400kV-hoogspanningslyne vir hul beoogde subkragstasie, naby Bokmakierie, wil aanlê. Dié twee hoogspanningslyne en substasie sal klaarblyklik krag verskaf aan die huidige en beoogde myne noord van die Soutpansberg.
“Twee 400kV-lyne vir 'n ylbewoonde area is oorbodig," voer die organisasies aan.
‘n Inligtingsdokument van Eskom is egter vaag om te verduidelik waarom nóg substasies nodig is. Die dokument van die elektrisiteitsverskaffer meen dat daar tans beperkings ervaar word “om sy [Eskom] verpligting na te kom, naamlik om aan Suid-Afrika se primêre elektrisiteitsaanvraag te voldoen.”
Luidens ‘n omgewingsimpakstudie het Eskom tans twee roetes geïdentifiseer. Borutho/Bokmakierie en Tabor/Bokmakierie. Albei die lyne gaan na die substasie by Bokmakierie.
Een van dié roetes is die Borutho-lyn, wat gevaarlik naby die Blouberg Natuurreservaat verby gaan loop. Op sy naaste punt sal die lyn 11km verby dié reservaat se Kransaasvoël-broeikolonie verbygaan. Dié kolonie is nie net gelys as ‘n Rooi Data-spesie nie, maar is ook die grootste Kransaasvoël-broeikolonie ter wêreld.
Aasvoëlgetalle het gedurende die 1940's tot 1980's tot so ‘n mate gedaal dat hulle feitlik uitgeroei was. Blouberg Natuurreservaat is tans aan die voorpunt van die bewaring van hierdie voëlsoort. Die reservaat het meer as tien jaar gelede ‘n projek begin waarin plaaslike gemeenskappe betrek en vergoed word ten opsigte van die bewaring van aasvoëls. Aasvoëls, wat gesog is vir muti-mengsels, word van die gemeenskap teruggekoop, gesond gemaak en weer in die natuur vrygelaat.
Tydens 'n opname in Junie is daar 868 Kransaasvoël-broeipare getel op Blouberg en 173 in die Soutpansberg. Daar is tans slegs 2 600 broeipare oor in die wêreld. Ander aasvoëlspesies wat ook daar voorkom en uniek is aan die Blouberg-omgewing, is die Witrug-, Monnik- en Swartaasvoëls. Verder is daar ook baie ander Rooi Data-voëlspesies wat in die gebied van die beoogde kraglyne voorkom.
Die drie organisasies is gekant teen die beoogde kraglyne, veral omdat hulle voel dat sulke hoogspanningslyne huidige bewaringsprojekte by die reservaat in die wiele sal ry en die reeds-bedreigde spesies se getalle verder sal verminder. “Eskom verwys na aanvaarbare vlakke van impak op die aasvoëlspesies – daar is geen aanvaarbare impak nie,” sê die organisasies in hul beswaarskrif.
Aasvoëls, wat dikwels laag vlieg en selfs ook snags, staan die gevaar om in die kraglyne vas te vlieg. “Bestaande kraglyne is reeds 'n probleem vir dié kwesbare spesies in hierdie gebied. Bykomende lyne sal dié negatiewe situasie net aanpor.”
Buiten vir die gevaar wat aasvoëls en ander spesies loop met die kraglyne, sal die natuurlike veld in die streek ook beskadig word. Eskom stel voor dat ‘n area van ongeveer 400Ha ontbos sal moet word vir die twee beplande kraglyne.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
