

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 August 2012
‘n Dorp sonder water het baie reperkussies. Dink aan ‘n hospitaal vol pasiënte en geen water vir hulle versorging nie.
Dit was inderdaad die situasie Saterdag toe ‘n baba met diarree opgeneem is en nie by die Zoutpansberg Privaathospitaal in Makhado (Louis Trichardt) gebad kon word nie. Klein Liam van den Berg (19 maande) is op 4 Augustus by dié hospitaal opgeneem. Ma Nadine het deurentyd by hom gebly en in die hospitaal geslaap.
“Dit was nou ‘n storie gewees. Hy is met ‘n maagvirus opgeneem en natuurlik brand die boudjies. Daar was nie water om hom te bad nie. Hulle het vir my ‘n skotteltjie warm water uit die ‘urn’ gebring om hom te was. Ekself kon ook nie gaan bad nie. Maar nou ja, dit is nie die hospitaal se skuld as die munisipaliteit nie water voorsien nie,” sê Nadine.
Die tegniese bestuurder van die hospitaal, mnr. Fanie van Zyl, het hierdie week sy hart uitgepraat oor die hospitaal se frustrasies met die watervoorsiening. Daar was darem lig aan die einde van die tonnel. Die hospitaal het sowat ‘n jaar gelede hulle aantal water opgaartenks van twee na vyf vermeerder. Die laaste vier maande is selfs hierdie 25 000 liter opgaarruimte nie genoeg nie, omdat die watervoorsiening net te sporadies is.
“Die water is fisies elke dag af. Ons bestuur die situasie in die week deur drie tenks toe te draai om ‘n watervlak in die ander twee tenks te verkry. Van Vrydag (3de) was daar geen water nie en daarom het ons die drie reserwetenks oopgedraai. Teen Saterdag was alles opgebruik,” sê Fanie.
Die hospitaal poog om ‘n 25 000 liter watervoorraad op te bou, maar met geen water wat inkom nie, is die watervoorraad binne 24 uur uitgeput. Teaters moet skoongehou word, dokters moet skrop, mammas kraam en baie linnegoed moet gewas word.
“Dit sou nie ‘n probleem gewees het as die munisipaliteit water voorsien soos hulle moet nie,” sê Fanie. Hy het groot lof vir die munisipale vragmotorbestuurder, Stanley Raphunga. “Hy is ‘n staatmaker en vra altyd of ons tenks vol is en of hy kan water bring. Hierdie naweek het hy egter gesê dat daar net eenvoudig geen water in die dorp beskikbaar is nie.”
Dit lyk of Stanley meer op hoogte is as diegene by die Makhado Munisipaliteit wat antwoorde moet verskaf. Die munisipale woordvoerder het hierdie week ‘n antwoord gegee wat menige inwoner weereens die kop sal laat skud het. “Ons was nie daarvan bewus nie,” het mnr. Louis Bobodi per e-pos geantwoord. “As ons daarvan bewus word, tree ons dadelik en vinnig op,” was sy antwoord op die vraag watter voorkomende stappe geneem gaan word om te keer dat ‘n watergebrek weer by die hospitaal ontstaan.
Weens die dorp se kroniese watertekorte, het die hospitaal ten einde raad ‘n eie boorgat gesink wat binnekort toegerus gaan word. Gemeenskapslede het uit hul eie na vore gekom en gesê dat hulle die pomp wil toerus. Daarna sal twee van die tenks vanuit die boorgat volgehou word.
“Intussen is die pasiënte natuurlik ontevrede, want hulle betaal baie geld vir die hospitaal en dan is daar nie eers water nie,” sê Fanie. As die tenks leeg is, dra die drie buitekrane nog vir ‘n ruk water en die personeel tap al wat ‘n houer is vol om die toiletsisteem aan die gang te hou.
Die naweek se waterkrisis by die hospitaal is gelukkig opgelos toe die water Sondag aangekom het en die watertenks weer met water gevul is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
