ADVERTISEMENT:

 

Een van die talle plaaswerkers, besig om ´n brandende stomp te blus.

Wegholveldbrande in Soutpansberg eis een lewe

 

News  Date: 13 August 2012

 

Wegholveldbrande het, te midde van die begin van die brandverbodperiode, reeds die lewe van een persoon in die Soutpansberg geëis.

‘n Beesboer van Murungwa in die Maelula-omgewing, mnr. M. S. Ludere,  is Maandag deur die digte rookwolke van ‘n veldbrand oorval toe hy gepoog het om sy beeste uit die brand te red. Hy was ‘n asmalyer en het nie sy asmapompie by hom gehad nie.

Nog ‘n boer van die Levubu-omgewing het ter nouernood aan die dood ontkom toe ‘n veldbrand hom byna vasgekeer het.

Mnr. Abrie Wepener het Maandag inderhaas probeer om voorbrand op sy plaas te maak om te voorkom dat ‘n wegholveldbrand oor sy plaas versprei. Dié brand het glo ontstaan toe ‘n plaaswerker vuur gemaak het vir sy kospot.

Abrie het dadelik probeer om die brand te bestry, maar soos wat hy voorbrand gemaak het, het die vlamme, aangevuur deur ‘n sterk Augustus-wind, hom begin inhaal. In ‘n stadium moes hy deur die aankomende vlamme vlug om veiligheid te bereik.

Sy pa Gert, wat van die opstal gesien het hoe Abrie wegvlug van die vlamme, was net so benoud gewees. Die digte rook het sy sig erg belemmer toe hy gejaag het om Abrie te gaan help. “My pa was bleek van bekommernis en het op en af gery tot hy vir Abrie by die grensdraad gekry het,” het Jaco Wepener, Abrie se broer, vertel.

Hulp van buurplase het vinnig gearriveer om te help om die vuur onder beheer te kry. Ten spyte van bestaande brandbane, het die vuur vinnig talle hektaar van die Wepeners se weiding verswelg. ‘n Buurman se beeskraal het ook in die slag gebly, nadat die wind die vuur oor ‘n grensdraad gedwing het.

Na afloop van Maandag se gebeure het die voorsitter van die Makhado Fire Protection Association,  mnr. André Kruger,  gesê dat boere en inwoners daarop moet let dat daar ‘n totale brandverbod op die maak van oop vure is gedurende Augustus, September en Oktober.

Kruger, wat ook die plantasiebestuurder is van Sheefera en jare se kennis het van brandbestryding, het gesê daar was Maandag ‘n 69% brandgevaar in terme van Bosbou se brandgevaarglyskaal. Dié glyskaal neem faktore soos vogtigheid, windspoed en reënval in ag en kategoriseer dan ‘n brandgevaar in vyf kleure, naamlik blou, groen, geel, oranje en rooi.

Maandag was daar ‘n oranje brandgevaar, met ‘n windspoed van 6km per uur.

Kruger het inwoners en boere gemaan om liefs nie vuur te maak nie. Veral boere, het hy gesê, moet versigtig wees, veral in bosbou- en boordareas.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines