

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 August 2012
Met buitensporige hoë foutiewe munisipale rekeninge hoor die verbruiker dikwels dat hy maar eers moet betaal en dan sal die rekening later uitgesorteer word.
Hoe nou gemaak as jou rekening skielik ‘n positiewe balans van R6.5 miljoen toon? Sou dit nou nie lekker gewees het as die munisipaliteit maar eers die bedrag vir jou uitbetaal het en dan later jou rekening uitsorteer nie?
Die plaasSederkrans buite Makhado (Louis Trichardt) het in Julie so ‘n rekening ontvang, waarop ‘n inbetaling van R6,5 miljoen met dank erken word. As die maand se elektrisiteitsverbruik afgetrek word, bly daar darem nog R6 497 359 oor.
“Ons gaan baie lank elektrisiteit moet gebruik om soveel op te gebruik!” het mnr. Louis Linde tong in die kies gesê. “Ons het die normale bedrag inbetaal en sal volgende maand se rekening dophou en kyk of dit slegs ‘n rekenaarfout of tikfout was,” sê Linde. As R30 000 per jaar betaal word en elektrisiteitstariewe gaan nie op nie, kan 'n bedrag van R6 miljoen straks vir 200 jaar se elektrisiteit betaal.
“Hoe kan niemand so iets raaksien nie? Dit is asof daar nie voldoende kwaliteitbeheer gedoen word op die rekeninge wat uitgaan nie. Daar is nie kontrole nie,” sê mnr. Phillip Olivier, bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV). Die SBBV sorteer elke maand ‘n gemiddeld van sewe tot agt sulke buitensporige munisipale rekeninge vir hul lede uit.
Die Makhado Munisipaliteit het hierdie week gesê dat die stelsel om rekeninge na te gaan wanneer daar ‘n 10% afwyking is, steeds in werking is. “Die senior klerk (rekeninge) is verantwoordelik vir die munisipale rekeninge en kwaliteitbeheer is ‘n diens wat tussen die betrokke departemente gedeel word,” het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê. Na aanleiding van Linde se rekening is dit egter duidelik dat iemand nie sy of haar werk gedoen het nie.
Mnr. Corné Fourie van Bires meterlesers het opgemerk dat die R6.5 miljoen ingekom het by die betaling en dat dit dus ‘n fout by die allokering van geld kan wees. “Iemand het dalk so ‘n bedrag inbetaal en dit is verkeerd geallokeer. Daar was sedert Januarie baie probleme ná die munisipaliteit se oorskakeling van banke in September verlede jaar, omdat die bank se rekenaarsisteem nie aanpasbaar met die munisipale sisteem is nie. Dit is dus ‘n fout aan die Raad se kant,” het Fourie gesê.
“Ek vermoed dat dit ‘n vingerfout was wat ingekom by die oplaai [van inligting] op die sisteem by die munisipaliteit,” het mnr. Manny Netto van die plaaslike Bires kantoor gesê. “Baie gevalle waar die rekenings te hoog is, is te wyte aan die oorskakeling waar ‘n meter met vyf nommers, 99999, weer oorslaan na 1. Die sisteem aanvaar nie ‘n lesing wat minder as die vorige maand s’n is nie. Dit neem drie maande op hulle sisteem om dit reg te kry. Dan kry die persoon vir drie maande nie ‘n bedrag om te betaal nie, en die vierde maand kom alles gelyktydig op die rekening,” sê Netto.
Fourie sê dat buitensporige lesings al van 2 000 gevalle na 400 afgebring is en dat die 400 hoofsaaklik te doen het met meters wat oorslaan of stukkend is.
Die munisipaliteit het nie geantwoord op die vraag of die Munsoft-sisteem waarop hulle werk enigiets met die probleme te doen het nie. Munsoft is 'n munisipale finansiële en rekening sisteem van Johannesburg en die Makhado Munisipaliteit is volgens die Munsoft webwerf een van 37 munisipaliteite wat die sisteem gebruik.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
