ADVERTISEMENT:

 

Bloedige Desember op paaie

 

News  Date: 10 January 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Die afgelope Desembervakansie was een van die bloedigste ooit op die streek se paaie wat motorongelukke en padsterftes betref.

Lede van die plaaslike nood- en reddingsdienste het gedurende Desember altesaam 48 ongelukstonele in en om Louis Trichardt bygewoon. Nege persone het gesterf, terwyl 26 persone ernstige en 68 persone ligte beserings opgedoen het. Alhoewel spoed en die oormatige inname van alkohol 'n rol gespeel het in 'n klein hoeveelheid van die ongelukke, was die grootste oorsaak van ongelukke volgens mnr. Nico Theunissen van die plaaslike brandweer egter moegheid en uitputting. Meeste van die ongelukke het gedurende die aand of vroeë oggendure plaasgevind.

Wat padsterftes betref, sterf een persoon op 5 Desember in 'n ongeluk sowat 15 kilometer uit op die Levubu-pad. 'n Tweede persoon sterf in die vroeë oggendure van 22 Desember sowat 30 kilometer op die N1 suid en 'n paar uur later dieselfde dag sterf 'n derde persoon by die afdraaipad na LMB Louis Trichardt. Die N1 suid eis op 27 Desember die lewe van vier mense, terwyl twee jong inwoners van die streek omstreeks 03:00 op 29 Desember op slag sterf, ook in 'n ongeluk op die N1 suid.

Wat ongelukke in en om Louis Trichardt vir 2002 betref, is altesaam 303 by die plaaslike nooddienste aangemeld.

Op provinsiale vlak was daar gedurende Desember 2002 altesaam 61 noodlottige botsings op die streek se paaie, in teenstelling met die 46 in die ooreenstemmende tyd in 2001. In die Vhembe-distrik, waaronder Louis Trichardt val, was daar egter 'n geringe daling in Desember met 11 noodlottige botsings, in vergelyking met die 13 van 2001. In totaal sterf 77 persone op die provinsie se paaie gedurende die Desember-feestydperk, terwyl 284 persone ernstige en 377 ligte beserings opdoen. Van die 77 persone wat gesterf het, was 25 voetgangers, 26 passasiers, 24 bestuurders en twee fietsryers. In Desember 2001 is 54 persone op die streek se paaie dood, waaronder voetgangers (24) die meeste was.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines