

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 August 2012
Die een hand druk op die vuil, flenter T-hempie oor sy maag en die ander beduie met sy vingers voor sy mond. “I’m hungry. Please, I ask money for food.”
Die beeld wat uitstraal is dié van 'n erg-verwaarloosde, kaalvoet kind wat sê hy’s honger. Dit is moeilik vir ‘n ordentlike mens om nie vir hom jammer te wees nie. Die maklike uitweg is om met ‘n gedeelte van die kleingeld in jou sak jou gemoedsvrede te probeer terugkoop deur vir hom ‘n geldjie in die hand te stop ... maar dan kom pla die lastige vrae: “Help ek regtig? Genoeg ? Te veel? Verkeerd? Hoe dan eintlik?"
Die algemene raad is: Moenie vir hom geld gee nie. As iemand honger is, gee hom iets te ete.
Die waarskuwing teen die gee van geld op straat gaan oor die wesenlike gevaar dat die geld dalk nie vir kos nie, maar vir een of ander skadelike gewoonte misbruik gaan word. Ander sê geld bemagtig hom om op straat te bly. Jy sorg dus eintlik dat hy verwaarloos bly, want verwaarlosing gaan nie bloot oor ‘n gebrek aan kos, klere en slaapplek nie: “Being unwanted, unloved and forgotten by the world is perhaps a greater hunger and a greater poverty than a person who has nothing to eat,” het Moeder Teresa gesê.
‘n Mooi stukkie raad - dalk die ideaal in ‘n modelgemeenskap - is: Gaan koop twee ietsies te ete met ‘n sappie daarby en kom sit langs hom op die randsteen; eet saam en maak kennis met sy werklike nood.
As jy op pad na die werk of die kerk was, sal jy dalk nie gepas geklee wees vir so ‘n impromptu kennismaking plat op die aarde nie. Tyd is ook nog ‘n faktor en jou tyd is inderdaad in hierdie opsig nuttiger as jou geld. Die belangrikste is om om te gee en seker te weet jy doen dit op ‘n manier wat (hoe gering ookal) ‘n positiewe verskil gaan maak.
Daar is ook plaaslike organisasies en projekte wat met jou hulp hierdie positiewe verskil kan maak. Jy kan die geregistreerde private gemeenskapsorganisasies prakties help deur die nood wat jy teëkom onmiddellik by hulle aan te meld vir die tersaaklike professionele optrede, nadat jy die nodige noodhulp verleen het. Jy kan help om hulle hande te sterk deur die geld wat jy beskikbaar wil stel, in die vorm van ‘n gereelde bydrae na hulle kant toe aan te gee vir die befondsing van hul belangrike werk namens jou. Jy kan ook as vrywilliger betrokke raak by hul dienswerk. Die moontlikhede vir sulke insette van vrywilligers is bykans onbeperk.
Wanneer dit oor sorgbehoewende kinders gaan, is 'n welsynsbeampte se spoedige betrokkenheid belangrik.
* Die beamptes van die Departement Gesondheid en Gemeenskapsontwikkeling is gedurende kantoorure beskikbaar by 015 516 1524. Hul kantore is op die grondvloer in die suidelike vleuel van die landdrosgebou op Makhado (Louis Trichardt).
* Die SAPD se staande opdrag is om alle kinders met wie hulle te make kry, by ‘n welsynsbeampte aan te meld. As ‘n verwaarloosde kind enige tyd van die dag of nag sonder volwasse toesig of in ‘n potensiëel-gevaarlike situasie aangetref word, kan hulle help. Die nommer is 015 519 4300.
* Die Suid-Afrikaanse Kinderwelsynsorganisasie (Child Welfare) is ook nou op Makhado (Louis Trichardt) verteenwoordig deur ‘n voltydse maatskaplike werker. Sy is Mary Maluleke by 084 857 6124.
* Die Jesuit Refugee Services (JRS), wat waardevolle insette lewer met die hereniging van buitelandse kinders met gesinslede of kennisse elders in die land, kan gedurende kantoorure geskakel word by 015 516 3066. Die kantoor is geleë in Industriaweg (parallel met die N1) in die suidoostelike nywerheidsgebied.
* St Teresa Shelter for Boys in die suidelike nywerheidsgebied is onder die beheer van Father Frank Gallagher (082 6641 393) op kantoor by die Roomse Katolieke Kerk op die hoek van Jeppe- en Burgerstraat.
* Tshitandani Child Care is ‘n plaaslike kindersorgorganisasie wat reeds die afgelope 12 jaar ononderbroke aandag gee aan verwaarloosde kinders en eersdaags hul nuwe veeldoelige sorgsentrum in Tshikota betrek. U kan u hulp en bystand en ondersteuning vir hierdie projek aanbied by Andries Smal by 082 899 9543.
* Die SAVF se kantoornommer is 015 516 3841.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
