

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 August 2012
Dringende hulp word benodig om die mediese koste te help dek van ‘n hulpbehoewende pensionaris wat intensiewe nasorg na ‘n ernstige operasie moet ontvang.
Die verswakte pensionaris, tant Koekie Koekemoer van Bulawayo, is een van die meer as 1 600 verwaarloosde bejaardes in alle dele van Zimbabwe wat oorleef met behulp van noodrantsoene wat elke ses weke op ‘n georganiseerde wyse uit Suid-Afrika na dié buurland gebring word.
Luidens ‘n onlangse opname is sowat 40% van die hulpbehoewende pensionarisse en verjaagde boere in Zimbabwe Afrikaanssprekend.
Die grootskaalse deernisaksie van die Zimbabwe Pensioners Support Fund (ZPSF), waarin hoofsaaklik kos en basiese medikasie oor die grens geneem word, word reeds die afgelope 10 jaar getrou volgehou deur die broers Hannes en Attie Botha, met behulp van skenkings wat landwyd ingesamel en deur ‘n span vrywilligers sorgvuldig verpak word. Die meer as duisend kartonhouers met noodsaaklike voorrade word elk met die naam en adres van die begunstigde bejaarde voorsien in 'n pakhuis wat spesiaal ingerig is vir die berging en verpakking van die noodlenigingsvoorrade. Die Botha-broers doen self diens as vragmotorbestuurders van die twee swaarvoertuie en sleepwa waarmee dié lewensbelangrike vragte by hul individuele bestemmings in Zimbabwe afgelewer word. Hulle verwelkom mense wat die rit wil meemaak.
'n Massiewe oorlewingskrisis is vir pensionarisse geskep deur die Zimbabwiese owerheid se ingrypende manipulasie van die land se geldeenheid, waarmee bykans alle voorsiening vir hul oudag vernietig is.
Die ZPSF se aflewerings van noodvoorrade sedert 2002 gaan gepaard met gewaardeerde kontakbesoeke, gesamentlike sosiale verkeer, berading en bestekopname van die individuele en gesamentlike nood.
Volgens die jongste uitreikverslag van die Bothas word Tant Koekie tans in die Edith Duly verpleegsentrum in Bulawayo versorg. Sy ontvang intensiewe nasorg. Sy kon sedert die operasie nog nie weer loop nie.
In hul verslag bedank die Bothas almal wat tot dusver gehelp het met haar mediese rekenings, waarvan groot bedrae nog uitstaande is.
“As enigiemand haar intussen persoonlik wil bemoedig met ‘n gesprek of SMS kan sy geskakel word by +263 7755 73829. Geldelike bydraes, wat duidelik gemerk moet word met die verwysing: Koekie Byo, sal verwelkom word,” sê die Bothas. Die ZPSF se bankbesonderhede is Eerste Nasionale Bank, Malelane, takkode 27 09 52 en rekeningnommer 622 390 429 06.
Die Bothas se volgende uitreik na Zimbabwe vertrek hierdie week en hulle sal Tant Koekie besoek en die geld wat ontvang word, daar oorbetaal.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
