

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 August 2012
‘n Nuwerwetse slimfoon het daartoe gelei dat twee leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt tans ‘n dissiplinêre verhoor in die gesig staar, nadat hul uitgevang is dat hulle medeleerlinge se selfone gesteel het.
Die twee leerlinge, wat broers is, het baie om te verduidelik. Dit volg ná twee afsonderlike voorvalle waar medeleerlinge se selfone uit hul kleresakke gesteel is tydens die onlangse revue optredes by die skool. Die twee kan nie geïdentifiseer word nie, aangesien hulle nog minderjarig is.
Die eerste kind se selfoon, ‘n Blackberry-slimfoon, het tydens die kleedrepetisie op 26 Julie vermis geraak. Die tweede kind se selfoon is gesteel tydens die eerste aand se revue-optrede op 30 Julie. Van meet af was dit vir die onderwysers en ouers vreemd hoe die fone vermis kon raak, aangesien daar kinders was om die kleresakke op te pas. Reeds toe is daar vermoed dat die diewe dalk deel is van die revuegroep self.
En hulle was nie verkeerd in hul afleiding nie.
Aangesien die Blackberry-slimfoon oor ‘n unieke BBM-pinnommer beskik, is daar gewag dat die foon weer aangeskakel word. ‘n Uitnodiging is toe na die foon gestuur en dit was toe dat slim sy baas vang.
Glo dit of nie, die jongeling het die uitnodiging aanvaar sonder om die bestaande inligting van die werklike eienaar uit te wis. Van sy vriende, wat bewus was van die diefstalle, het dadelik opmerk dat die inligting op die foon dié van die eintlike eienaar was. Hulle het hom aangepraat en versoek om die foon dadelik terug te gee.
Maar so maklik was dit nie om uit die gemors te kom nie. Hy is na die skoolhoof, mnr. Henry Denner, se kantoor geneem. Daar het dit aan die lig gekom dat sy broer die ander selfoon gegaps het. Die broer is ook ingeroep en gevra waar die ander foon is. In hierdie stadium het die voorval ‘n verdere wending geneem.
Die seun het erken dat hy die foon gesteel het, maar dat hy dit intussen by ‘n plaaslike selfoonhandelaar gaan “omruil” het vir ‘n ander foon. Net daar is die seun en Denner na die selfoonhandelaar. Dit was Woensdagoggend, 1 Augustus. Daar aangekom, het die seun ‘n man agter die toonbank uitgewys, wat op sy beurt ‘n vloermoer gegooi het.
“Hy het herhaaldelik begin skreeu: ‘Ek het hom gevra of dit sy foon is!’” het Denner Dinsdag gesê. Hy het daarop aangedring dat die foon onmiddellik terugbesorg moet word. Die foon was nie by die winkel nie en moes by ‘n huis gaan haal word. Die foon is teruggevind, maar alle inligting daarop is uitgewis, sodat dit soos ‘n nuwe foon was.
Die voorval het weer die soeklig geplaas op die probleem van diefstalle op skool, in watter mate kinders hieroor gestraf word en die gebruik van selfone by skole. Die vraag is gevra wat skole doen om die probleem aan te spreek.
Rondom diefstalle het Denner gesê dat mens moet onthou dat daar daagliks 930 leerlinge plus personeel deur hulle hekke gaan en dat diefstalle kan plaasvind. “Dit is egter nie ‘n gereelde ding nie,” het Denner gesê.
Wat straf betref, het Denner gesê hulle moet nog besluit hoe die kinders gestraf gaan word. Op 8 Augustus is daar met die kinders se ouers vergader en volgens Denner behoort die twee broers se dissiplinêre verhoor hierdie week afgehandel te word. Die skool het, volgens Denner, verskeie opsies. Die kinders kan vir sewe dae geskors word of met debiete gepenaliseer word.
“Die voorgeskrewe straf volgens ons interne dissiplinêre kode is egter, volgens ons, te lig. Ons wil hê die kinders moet dit aan hul lywe voel,” het Denner gesê. Hy het verwys na moontlike gemeenskapsdiens as straf vir die twee boeties. Meer ernstig het hulle egter reeds ‘n finale waarskuwing gekry ten opsigte van uitsetting uit die skool, sou so iets weer gebeur.
Oor die gebruik van selfone by die skool het Denner gesê dat selfone so ‘n integrale deel van die samelewing geword het, dat hulle nie die kinders kan verbied om selfone skool toe te bring nie.
“Daar is egter vasgestelde tye wanneer die kinders die fone tydens skooltyd kan gebruik. As hulle dit buite hierdie tye gebruik en uitgevang word, word hul fone gevat en vir sewe dae in die kluis toegesluit. Daarna kan hulle dit terugkry,” sê Denner. Hy voeg by dat daar al fone van twee en drie jaar gelede in die kluis lê, want dit is blykbaar makliker vir die kinders om vir hul ouers te sê hul foon is gesteel en dan kry hulle net ‘n nuwe een.
Op ‘n vraag of die skool enige klagte teen die kinders of die selfoonhandelaar by die polisie aangemeld het, het Denner gesê dié besluit lê by die ouers van die kinders wie se fone gesteel is.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maando Sadike het by navraag bevestig dat dit wil voorkom asof die selfoonhandelaar wel onwettig opgetree het deur die foon by die seun te vat en om te ruil vir ‘n ander. Soortgelyk aan skrootmetaalwerwe, is daar sekere prosedures wat gevolg moet word deur besigheidseienaars wanneer hulle tweedehandse goedere by die publiek aankoop, veral aangesien dit moontlik gesteel kan wees. Dit kan insluit die maak van ‘n kopie van die verkoper se ID-dokument, sou daar na die tyd navrae van die polisie wees. Sadike het bygevoeg dat die polisie hier reeds ‘n geruime tyd besig is met ‘n projek om veral spaza-winkels en sjebeens in die area voor stok te kry wat ‘n afsetpunt skep vir gesteelde goedere.
“Mense moet nie skroom om onmiddellik sulke handelaars by die polisie te rapporteer nie,” het Sadike gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
