ADVERTISEMENT:

 

Ontwikkeling in Boompark ontlok fel kritiek

 

News  Date: 10 January 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Oorweldigende reaksie het hier gevolg op die Makhado Munisipaliteit se planne om een van die dorp se belangrikste natuurlike bates, die Boompark, te vernietig, op die vooraand van die ewe omstrede grootskaalse Sjinese nywerheidsontwikkeling in die dorp.

'n Ernstige vertrouensbreuk tussen die burgemeester en sy Raad aan die een kant en die belastingbetalers van die dorp aan die anderkant, word deur die hele aangeleentheid verder op die spits gedryf.

Inwoners van die dorp het met ontsteltenis en verontwaardiging gereageer op die aankondiging dat die Stadsraad beoog om die dorp se bekende bewaarpark vir inheemse bome, die Inheemse Boompark, in sakepersele te laat opsny en aan private eienaars te verkoop. Belastingbetalers het vir etlike dekades derduisende rand bestee aan die instandhouding van die park.

Die Zoutpansberger is sedert die bekendmaking van die ingrypende aantasting van die dorp se natuurerfenis oorval met oproepe en briewe van lesers wat hul verontwaardiging en ongeloof oor die voorneme uitspreek. Sonder uitsondering word die Stadsraad se voorneme as ongevraagd, beginselloos, onbesonne, kortsigtig en roekeloos onverantwoordelik beskryf.

Benewens individuele inwoners het verskeie kerkgenootskappe en organisasies ook gereageer en is inwoners reeds besig om hulself vir georganiseerde protesaksie voor te berei. Bewaringsbewustes het die Stadsraad se optrede veroordeel as 'n demonstrasie van "'n gesindheid wat totaal gestroop is van enige aanvaarbare etiese beginsels."

Die Bewaarpark vir Inheemse bome maak deel uit van die dorp se gesogte Groengordel (oewergebied) wat vanaf die N1 tot in die dorpsrivier strek oor 'n strook wat ook die Voëlpark insluit en noordwaarts strek tot teenaan die SAFCOL plantasies. Benewens natuurlike en aangeplante inheemse bome, bevat dit ook grafte van Portugese en ander pioniers. Dit sluit die nuwe Toerisme Inligtingsentrum by die ingang van Songozwistraat en die dorpsdam suid van Stubbsstraat in.

Briefskrywers is veral verontwaardig oor die voorneme om so 'n unieke natuurbate op te offer ter wille van "goedkoop" beskikbare grond, terwyl reuse oop ruimtes in die sentrale sakegebied van die dorp onontwikkeld lê. Hulle wys daarop dat net oorkant die N1 die ruim vervalle Eltivillas Plaza 'n ideale geleentheid vir grootskeepse vernuwende herontwikkeling bied vir enigeen wat werklik die langtermyn belang van die dorp en die sakegemeenskap op die hart het. Die beoogde omskepping van die Boompark in 'n sakegebied hou nie net 'n bedreiging in vir inwoners se lewensgehalte en die bestaande sentrale sakegebied nie, maar sal ook vir die kwynende Eltivillas sakekompleks 'n ernstige nekslag kan toedien.

Hulle spreek skok en verontwaardiging uit oor die oënskynlike rol wat die burgemeester in die hele omstrede aangeleentheid speel. In 'n nasionale dorpskompetisie het die burgemeester hoog opgegee oor die Boompark as een van die dorp se belangrike bates, terwyl hy in daardie stadium reeds bewus moes wees dat die "bate" reeds opgemeet word vir uitwissing. Die optrede word as ongelooflike skynheiligheid beskryf. Die beweerde betrokkenheid van 'n gesinslid van die burgemeester in die omstrede multi miljoen rand Sjinese avonture van die Raad, die burgemeester se dubbelpratery oor die dorpsnaam debakel en sy ontkenning van amptelike inligting oor die buitensporige koste van 'n voorgenome derde besoek aan Sjina, laat ernstige vrae ontstaan oor die burgemeester se vermoë om oor langtermyn morele en etiese sake leiding te kan gee in die huidige belangrike oorgangstydperk.

Die boomryke strate van die dorp is die gevolg van versiende vergroeningsprogramme wat reeds in die jare veertig in die dorp aangepak is, maar sedertdien bykans heeltemal tot stilstand gekom het.

Benewens die behoud en opgradering van bestaande parke en oopruimtes, word die behoefte ook beklemtoon aan 'n amptelike volgehoue vergroeningsprogram vir die dorp en 'n doelgerigte opvoedingprogram om almal, insluitend die beamptes van die Raad, groter agting en waardering vir bome aan te leer.

Die huidige Groen Gordel Gebied van Louis Trichardt word te midde van die verwagte toekomstige uitbreiding en ontwikkeling op die dorp deur sommiges vergelyk met die lewensbelangrike rol wat New York se Central Park in daardie nywerheidstad speel.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines