

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 September 2002
LOUIS TRICHARDT – Een van die streek se mees bekende inwoners en hengelaars, die 52-jarige mnr. Koos Theunissen, is Sondag (15de) skielik oorlede na twee beroerte-aanvalle.
Koos is reeds Saterdag (14de) opgeneem vir mediese behandeling, na 'n beroerte-aanval vroeër die dag. Aanvanklik het hy goed herstel, maar hy is breindood verklaar kort na 'n tweede beroerte-aanval vroeg Sondagoggend. Hy is omstreeks 11:00 in die hospitaal op George oorlede. Ten tye van sy afsterwe was Koos besig met 'n boukontrak op Plettenbergbaai, waarheen hy en sy vrou, Magriet, sowat 'n maand gelede tydelik verhuis het.
Koos is op 17 Augustus 1950 in Pretoria gebore, waarna hy sy laer- en hoërskoolloopbane onderskeidelik op Vivo en Louis Trichardt voltooi. Dit was tydens sy matriekjaar by Hoërskool Louis Trichardt wat hy vir Magriet ontmoet het. Magriet was sy groentjie en dit was nie lank voordat Koos haar gevra het om met hom uit te gaan nie. Die twee skoolliefdes is in 1975 getroud en drie kinders, Vicki, Jaco en Tanja is uit die huwelik gebore.
Aanvanklik was Koos werksaam vir die Departement Justisie, maar later jare het hy saam met Magriet by die destydse Louis Trichardt Munisipaliteit gewerk. Meeste mense sal hom egter onthou vir sy werk as boukontrakteur en sy besigheid, Koos Theunissen Bouers. Sowat drie jaar gelede het Koos en Magriet na Struisbaai verhuis waar hulle 'n visvangbesigheid bedryf het, maar omdat hulle nie hul kwotas kon kry nie, het die egpaar besluit om weer terug te keer na Louis Trichardt.
Koos het 'n absolute passie gehad vir hengel. Hy het in 1985 se Springbokkleure in dié sportsoort verwerf en was ook ondermeer president van die Soutpansberg Hengelklub en president van die Verre-Noord Ligtegereiboothengelvereniging. Buiten dit het hy ook provinsiale kleure in pluimbal verwerf.
Koos word oorleef deur sy vrou, sy drie kinders, een skoonseun (Karel) en twee kleinkinders. Hy sal Vrydag (20ste) om 10:30 vanuit die Haantjiekerk op Louis Trichardt begrawe word.

ADVERTISEMENT:
