ADVERTISEMENT:

 

Twee lede van die NG Kerk Soutpansberg Jeug, Karla van Zyl (voor links) en Dianette du Toit (voor regs), saam met (agter hulle, van links na regs) rdl. Rhulani Baloyi, rdl. Jacoba Underwood, rdl. Shonisani Sinyosi en die burgemeester, rdl. David Mutavhatsindi. Al die raadslede vorm deel van die munisipaliteit se uitvoerende komitee.

Burgemeester help plakkate afhaal

 

News  Date: 24 August 2012

 

Die  burgemeester van Makhadohet Saterdag aangesluit by ‘n plaaslike jeuggroep en gehelp om honderde onwettige en onooglike plakkate in die middedorp te verwyder.

Die aksie is geïnisieer deur die jeuggroep van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente. Hulle het dit spesifiek teen die plakkate wat onwettige aborsies adverteer, asook allerhande vals produkte aan verbruikers bemark. Die plakkate word teen lamppale, verkeerstekens en selfs vuilgoeddromme vasgeplak.

“Die onwettige praktyke word gewoonlik vanaf die stede bedryf, met plaaslike agente wat eintlik net koeriers is,” verduidelik ds. Rudolph Botha, jeugleraar by die NG Kerk  Soutpansberg-gemeente. “Die onwettige aborsies verwoes talle jong lewens, want dit word nie volgens enige voorskrifte uitgevoer deur gekwalifiseerde persone nie. Die operateurs van hierdie besighede is gewetenlose mense wat nie die menslike aspek respekteer nie en net geld uit iemand se nood maak,” sê hy.

Die groep het Saterdagoggend vroeg begin om die plakkate in die middedorp te verwyder. Die burgemeester en lede van die Raad se uitvoerende komitee het by hulle aangesluit en met skrapers en seep in die hand die onooglike materiaal verwyder. Die projek is ook gesteun deur die Tshitandani Care Foundation en verskeie van dié kinders het fluks help plakkate verwyder.

Na afloop van die skoonmaakprojek het die burgemeester, rdl. David Mutavhatsindi, sy waardering uitgespreek vir die aksie en ook die feit dat inwoners oor kleur- en kultuurgrense heen hande vat om ‘n gesamentlike probleem aan te spreek. Hy het namens die plaaslike owerheid onderneem om toe te sien dat die munisipale ordonnansies strenger toegepas word. Dit is onwettig om plakkate sonder die munisipaliteit se toestemming aan te bring.

Die organiseerders het weer ‘n beroep op inwoners en spesifiek besigheidseienaars gedoen om hulle te help in die stryd teen die onwettige plakkate. “As almal net die plakkate voor hul eie besighede verwyder, sal die persone wat die onwettige praktyke bedryf, moedeloos raak. Daar is een of twee persone wat die plakkate opsit, maar as daar ‘n paar honderd is wat dit dadelik afhaal, sal ons die stryd wen,” sê ds. Botha.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines