

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 August 2012
‘n Donker Sondag het toe heelwat langer aangehou as wat verwag is.
Selfoonboodskappe het rondgegaan om sommige inwoners (wie se selfone nie pap was nie) te waarsku dat Makhado (Louis Trichardt) se krag eers ure later sou aankom as die geadverteerde 18:00. Dit het uiteindelik eers om 22:45 aangekom.
Die Makhado Munisipaliteit is geloof deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) dat hulle deeglik kennis gegee het van die onderbreking. Dié onderbreking is uitgestel na 19 Augustus, nadat dit eers op 5 Augustus sou plaasgevind het.
“Ons waardeer dat daar kennis gegee is. Ons verstaan dat noodsaaklike instandhoudingswerk gedoen moet word en die SBBV wil hê dat die substasies opgegradeer en verbeter moet word. Om egter nie by die beplanningstye te hou nie en vyf-en-‘n-half ure oor die tyd te gaan, is onaanvaarbaar. Daar is sakepersone wat skade gely het met die inhoud van yskaste wat nie daardie ekstra ure sonder elektrisiteit kon hanteer nie. By ons hotel het ons Italianers gehad en ons het heeltyd verskoning gemaak en hulle belowe dat hulle om 17:00 warm water sou hê om te stort, wat toe nie gebeur het nie,” sê me. Inga Gilfillan, voorsitter van die SBBV.
Waarom het die werk aan die hoof substasie soveel langer gevat? Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het aggressief gereageer toe die vraag gestel is. “Julle wil ons blameer. Moenie vrae vra wat nie binne ons bevoegdheid val nie. Vra vir Eskom,” het Bobodi Maandag gesê.
Eskom se woordvoerder in die Limpopostreek, mnr. Thiofhi Ratsitanga, het Dinsdag gesê dat hulle tegnici onverpoosd gewerk het, maar dat hulle onvoorsiene tegniese probleme ondervind het by die Makhado substasie. Hy kon egter nie sê wat die aard van die tegniese probleme was nie.
Daar is uit ‘n betroubare bron verneem dat daar wel waarskuwings gegee is dat daar te veel werk vir een dag geskeduleer was. Aangesien heelwat inwoners van watertenks en drukpompe gebruik maak, was baie nie net sonder krag nie, maar ook sonder water.
“Dit kan dalk ‘n voorsmakie wees van wat kan gebeur as ons krag oor die lang termyn nie na behore onderhou word nie. Ons water het ingegee as gevolg van swak bestuur. Die groot vraag in gemoedere is wat sal gebeur as die elektrisiteitsvoorsiening ook ingee?” het Gilfillan gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
