ADVERTISEMENT:

 

Krisis aan die broei op Zim-grens

 

News  Date: 20 September 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (DLU) het die Minister van Verdediging versoek om dringend aandag te gee aan die situasie langs die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

Die DLU het by herhaling sy hulp as 'n magsvermenigvuldiger vir die SANW aangebied. Terselfdertyd het hy hom gedistansieer van individue wat volgens media berigte probeer het om die regering omver te werp.

In 'n brief aan Minister Patrick Lekota, sê die voorsitter van die Soutpansberg DLU, mnr. Dries Joubert, die situasie in Zimbabwe is alles behalwe normaal, danksy die kortsigtigheid waaraan Suid-Afrika ook aandadig is.

"Letterlik duisende armsalige produkte van 'n mensgemaakte ramp hardloop suidwaarts oor ons en ons goed. Hierdie mense is verhonger en desperaat. Hulle moet eet. Die toedrag van sake plaas kunsmatig druk op die plaaslike landbougemeenskap. Die resultaat van die Zimbabwe-situasie manifisteer in betredings, diefstal van vee en wild en inbrake by ons woonhuise en besighede, asook verskeie plaasaanvalle.

"Ons bekommernis is, terwyl bogenoemde op ons afgeforseer word, die veiligheidsmagte, met die klem op die SANW, opmerklik afwesig. Ons verneem in die media dat hulle besig is met sogenaamde vredesmag-operasies elders in Afrika - onder andere in Burundi.

"U sal begryp dat 'n kompanie of selfs twee kompanies nie naastenby die huidige situasie hier langs ons grens kan hanteer nie. Dus is iemand iewers ongelooflik naief of nalatig. Kortom, u kan nie van ons verwag om hoegenaamd tevrede te wees met wat ons beleef as skeefgetrekte prioriteitstelling nie. In die praktyk maak die prioriteitstelling van ons slagoffers.

"Van Georganiseerde Landbou kant het ons op forum na forum daarop gewys dat ons as 'n magsvermenigvuldiger kan dien - diepte kan verleen aan u yl en ad hoc operasies. Ons kan met u hulp ook aanhoudingsfasiliteite help daarstel. Sulke oplossings sal u beter laat lyk, die gemeenskap bevoordeel en Suid-Afrika weerhou van 'n langtermyn maatskaplike ramp," lui die brief aan die Minister van Verdediging.

Die brief is verlede week afgestuur.

Intussen het die DLU vandeesweek in 'n mediaverklaring sy diepe meegevoel en begrip uitgespreek teenoor mede-boere se benarde situasie in Zimbabwe. Die DLU sê die situasie is kunsmatig deur kortsigtige politici teweegebring.

"Dit is nie of ons in Suid-Afrika die Zimbabwe-situasie gaan herhaal nie, dit gaan plek-plek in Suid-Afrika reeds erger as in Zimbabwe," lui die verklaring.

Die verklaring wys op die 1 236 plaasmoorde in Suid-Afrika, teenoor 20 in Zimbabwe. Wat plaasbesettings betref lees die verklaring dat in Suid-Afrika word plakkers met 'n wet in plek gehou. Intussen duur die onwettige arrestasies van boere deur onbevoegde en polities gedrewe polisiebeamptes steeds voor in Suid-Afrika.

Wat die aanslag op private eiendom betref, lui die verklaring dat dit wat Mugabe eensklaps in Zimbabwe gedoen het, in Suid-Afrika stap vir stap gedoen word met dieselfde ongelukkige uiteinde insig. Die verklaring meld dat selfs mnr. Jeremy Cronin van die SAKP president Mbeki beskuldig van "ZANUFISERING."

Wat die arrestasie van individue aanbetref wat volgens media berigte die Suid-Afrikaanse regering wou omverwerp, sê die verklaring die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLUSA) en spesifiek Soutpansberg het geen skakeling of verbintenis met die genoemde individue nie.

"Ons is besig met die implementering van TLUSA se Landelike Beveiligingsplan. Die plan is gegrond op die sogenaamde steun/kringkonsep, waar individue as gevolg van ligging gekoppel word om op georganiseerde wyse enige aanslag die hoof te bied.

"Ons bied skitterende kursusse aan met instrukteurs wat voormalige SAW- en SAP-lede insluit.

"Waarmee ons besig is, is oop en binne die raamwerk van die wet. Wanneer die regering nie kan of wil optree nie, of wanneer hy blatant soos in Zimbabwe strydig met die Grondwet optree, behou ons ons die reg voor tot gepaste optrede."

Die verklaring beklemtoon dat die TLU se planne en kursusse met die veiligheidsmagte uitgeklaar is en binne die raamwerk van die Wet en die Grondwet geskied.

"Ons wil nie die regering omverwerp nie en hoop van harte dat dit ook nie nodig word nie. Waarmee ons besig is, het op ons pad gekom weens die verskuiwing van prioriteite by die SANW. Daarvan getuig sy buitelandse ontplooiings, terwyl min of geen geld vir ons eens trotse kommando's beskikbaar is of vir ons polisiemag - wat volgens ons belewenis nou eerder deel is van die probleem as van die oplossing."

Oor die beweerde staatsgreepplanne waarsku die Soutpansberg TLU sy lede en die algemene publiek: "Wanneer mense of instansies by u kom met vreeslike geheime planne - jaag hulle weg. Baie maal is die vreeslik patriotiese plan niks anders as elemente in die veiligheidsmagte wat u vir een of ander rede by 'n komplot wil betrek nie."

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines