ADVERTISEMENT:

 

Gru-ongeluk eis lewens van drie

 

News  Date: 20 September 2002

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Gru-ongeluk, waarby drie vragmotors betrokke was, het verlede Donderdag die lewens van drie mense geëis, asook veroorsaak dat die N1-noord na Musina vir 'n tydperk van sewe ure gesluit moes word.

Die ongeluk het omstreeks 20:30 sowat 35 kilometer vanaf Louis Trichardt plaasgevind. Die voorste van twee vragmotors, wat in konfooi gery het, se voorwiel het gebars, waarna dit voor aankomende verkeer ingejaag het en in die veld tot stilstand gekom het. 'n Derde vragmotor, wat in die teenoorgestelde rigting op reis was, moes noodgedwonge uitswaai vir die vragmotor wat skielik voor hom ingedraai het, maar het in die proses trompop teen die agterste vragmotor vasgejaag. Die geweld van die impak het die vragmotors se kajuite in flarde geruk. Beide bestuurders van die voertuie is op slag dood, asook 'n passasier. Die twee vragmotors het onderskeidelik kunsmis en katoen vervoer.

Kort na die ongeluk het nood- en reddingsdienspersoneel die N1 vir verkeer gesluit. Die pad was in totaal vir 'n tydperk van sewe ure gesluit, terwyl wrakstukke verwyder is. Op 'n stadium het gefrustreerde motoriste en omstanders self handjie bygesit om te help om die twee vragmotors se verlore vrag uit die pad te verwyder op versoek van reddingspersoneel. Enkelbaanverkeer was eers moontlik vanaf ongeveer 04:00 die volgende dag.

Opruimingswerk het Vrydag deur die loop van die dag voortgeduur op 'n toneel wat herinner het aan die sneeubedekte Drakensberge met katoen wat oor 'n wye area verspreid gelê het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines