

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 September 2002
LOUIS TRICHARDT – At Engelbrecht, die dorp se bekende minnesanger, stel op 27 September om 19:00 by die Gereformeerde Kerk se saal sy tweede kompakskyf bekend met die titel "How do you talk to an angel?"
"Ons mense hou van liedjies met mooi woorde en melodieë. Luistermusiek werk hier die beste," is Attie se mening in verband met die musieksmaak van sy omgewing se mense. Die tien snitte op Attie se nuwe CD voldoen dan ook almal aan hierdie vereiste. Die snitte is Vlerke in die wind ('n lied van Bles Bridges), Elvis Medley, Too much on my heart ('n nuwe lied wat nog nie tevore in Suid-Afrika opgeneem is nie), Ek sal by jou staan, Islands in the stream ('n duet saam met Juanita Henning), No one will ever know, How great Thou art, Love song, One dance with you en die titelsnit, How do you talk to an Angel?
Adriaan S.S. Engelbrecht is op 23 Augustus 1979 in Louis Trichardt gebore. As jong kind was Attie se sang in aanvraag by troues en straatfeeste. Sy eerste kasset "Wie sal kom nag sê?" is in 1996 vrygestel toe hy in standerd nege was. In die daaropvolgende twee jare was hy telkens finalis van Reik na die Sterre se nasionale kompetisie. Na afloop van Reik na die Sterre in 1997 is 'n CD, "Star Burst 97" vrygestel waarop Attie en sestien ander kunstenaars elkeen een snit opgeneem het. In 1998 het Attie met sy sang'n goue en brons medalje verower by die Wêreldkampioenskappe in Los Angeles. Sy eerste CD met die titel "Golden Memories" is in 1999 vrygestel.
Buiten sy nuwe CD, is 'n duet saam met Zeldine (Koekie van Vetkoekpaleis) en 'n duet, solo en medley wat 7 September opgeneem is, van sy meer onlangse werk. Hierdie opname is getiteld "Warm Treffers" en word saam met 21 kunstenaars, onder andere Dozi, in Oktober uitgereik. Nog 'n nuutjie is Attie se musiekorkes, Burning Ambition, wat ook tydens die bekendstellinggeleentheid (27ste) hulle debuut gaan maak.
Attie vertel dat hy altyd saam met sy pa gesing het toe sy pa nog gelewe het. Sedertdien, die afgelope agt jaar, het sy familie hom baie aangespoor. "My ma het my die meeste aangemoedig," sê 'n dankbare Attie. Op 'n vraag of hy nou al 'n "engel" het vir wie hy sy liefdesliedere sing, het die jong kunstenaar net ontwykend geglimlag.
Twee gelukkigge lesers staan ook die kans om elk een van Attie se nuwe CD's te wen. Al wat lesers hoef te doen is om die kantore van die Zoutpansberger te skakel by tel. (015) 516 4996 en die volgende vraag te beantwoord:
Wat is die titelsnit van At Engelbrecht se CD wat op 27 September bekendgestel word?
Die twee persone wat eerste die regte antwoord verskaf sal die CD's wen.

ADVERTISEMENT:
