ADVERTISEMENT:

 

Dit is hoe ‘n eens netjiese tuin en keerwal nou daar uitsien nadat munisipale werkers ‘n groot boom uitgehaal het en daarna met ‘n tru-grawer verwoesting gesaai het. Mnr. Danie van der Merwe staan op die plek waar die groot boom tevore gestaan het.

Munisipaliteit laat pad van verwoesting

 

News  Date: 31 August 2012

 

Munisipale werkers het ‘n boom op ‘n onprofessionele wyse afgekap en sodoende ‘n inwoner groot skade berokken. Asof dit nie genoeg was nie, het die munisipale tru-grawer ‘n pad van verwoesting agtergelaat …

“Ek kan nie soos ‘n barbaar leef met alles wat stukkend en deurmekaar is nie. Ek het baie geld spandeer om hier netjies te maak,” sê mnr. Danie van der Merwe. Van der Merwe woon op die hoek van Leeu- en Baobabstraat.

Die drama het begin toe ‘n waterpyp aan die munisipale kant op Sondag, 12 Augustus, gebars het. ‘n Dag of twee later het munisipale werkers opgedaag om  ‘n reuse boom uit te kap, vermoedelik omdat die boomwortels die waterpyp laat bars het. Die boom is egter sommer van onder af afgesny en het ongekontroleerd in ‘n ander boom ingeval en dié gebreek. ‘n Buitelig en elektriese kabels is gebreek en die hele gedeelte van die oprit voor die hek was afgesper. Die video-interkom was ook daarna buite werking.

Van der Merwe het met mnr. Rexon Mulaudzi van die munisipaliteit se parke-afdeling oor die gemors en skade gepraat. “Rexon het aan my gesê dat ek my nie moet bekommer nie, hulle sal al die skade kom regmaak,” sê Van der Merwe. Die gat waar die boom uitgehaal is, was omtrent twee meter diep en is naby die sypaadjie aan Leeustraat se kant. Die gevaarlike gat het vir meer as ‘n week oop gestaan.

Die munisipaliteit het egter op 23 Augustus hul tru-grawer met die reeds berugte vrouebestuurder gestuur en dié het nog ‘n groter spoor van verwoesting agtergelaat. Met geen respek vir eiendom nie, het plaveisel in die slag gebly, asook klippe en plante in die tuin buite die hek en oprit. Hierdie gedeelte is amper soos ‘n park op die hoek, wat deur Van der Merwe onderhou word. Die tru-grawer het bo-oor die stompe van die boom gery en skade opgedoen, sodat die hidroliese olie uitgelek het in die oprit. Van der Merwe het dringend versoek dat ‘n ander bestuurder gestuur moet word.

Die erf is baie laer as Leeustraat en Van der Merwe het ‘n keerwal met groot klippe gebou om die afspoel van grond oor sy oprit te keer. Dié keerwal is verwoes. Die tweede bestuurder het slegs meer grond oor die keerwal gestoot en dit in ‘n grondwal verander.

“Ek het die huis 20 jaar gelede gebou. Ek het nog altyd my eie span gekry en my eie werk gedoen. Dis die eerste keer dat ‘n munisipale span hier kom werk.  As jy ‘n boom afsny, begin jy tog bo afsny tot dit bo kaal is. As jy dan afsaag, maak jy seker dat die boom na die regte kant toe val. Hierdie mense maak ‘n mens kwaad en moedeloos,”  sê Van der Merwe. Hy het intussen die skade beraam op tussen R5 000 en R6 000, sonder die interkom.

Vrae is aan die Makhado Munisipaliteit gestel, omdat dit nie die eerste geval is waar bome op onkundige wyse afgekap is of waar die tru-grawer se bestuurder amok gemaak het nie. In Maart vanjaar is grafstene deur die tru-grawer se bestuurder stukkend gery, en na aanleiding van ander voorvalle sou die munisipaliteit al in September verlede jaar ‘n ondersoek loods.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het op 28 Augustus geantwoord, “Ons is nog besig om ondersoek in te stel. Wanneer ons klaar is daarmee, sal ons definitief die inligting verskaf.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines