

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 June 2004
LEVUBU – Die Pionierspark botaniese tuin en Pioniersmonument is Saterdag, 22 Mei, hier feestelik onthul tydens die gemeenskap se Pioniersdagvieringe.
'n Indrukwekkende monument, wat bestaan uit vyf suile, is by die geleentheid onthul. Op die middelste suil word die ontstaan van die omliggende Pionierspark uiteengesit. Die vier bykomende suile, wat soos kanale gestruktureer is, simboliseer die nedersettingstadiums in die ontwikkeling van Levubu.
Regstreekse afstammelinge van pioniersgesinne wat betrokke was by die vroeë nedersetting in 1860, en ook by die latere vestiging op die eerste Levubu persele in 1939, 1952 en 1961, het deelgeneem aan die onthullingsplegtigheid.
Die monument is opgerig digby die N.G. Kerk op Levubu, op die rant van die omliggende Pionierspark botaniese tuin - die enigste gemeenskapsbotaniese tuin in Suid-Afrika en die grootste botaniese tuin noord van Pretoria en Nelspruit. Die tuin is sedert die ontstaan van die gemeente deur lede van die gemeenskap op die kerkgronde ontwikkel en bevat tans 342 verskillende spesies. Talle inheemse bome is deur gesinne op die perseel aangeplant as deel van die Pioniersdagviering.
Die park word gewy aan die bewaring van die boomsoorte en plante van die Levubu-omgewing en is aangelê ter huldiging van die pioniers wat die Levubugemeenskap gevorm het en deur hul arbeid en toewyding 'n bloeiende gemeenskap tot stand gebring het wat oor baie jare die brandpunt vir ontwikkeling in die verre noorde van Suid-Afrika gevorm het.
Op die monumentsuil word die pioniers gehuldig vir die liefde wat hulle vir die skone omgewing gehad het en vir die steun wat hulle gegee het aan die ontwikkeling van Vendaland, die verskillende sendinggemeenskappe, die Nasionale Kruger Wildtuin en die bosbou-gemeenskap.
Die eerste plase is opgemeet en beset gedurende die laaste helfte van die negentiende eeu in verskillende stadiums. Die plase Gevonden, Barotta, Verzameling van Waters, Laatsgevonden, Madrid, Appelfontein, Klein Australië, Beaufort en Nooitgedacht is sedert 1860 aangelê. Die eerste nedersetters het hul hoofsaaklik op beesboerdery, jag en handel toegespits, maar ook die eerste vrugteplase gevestig. Malaria en ander tropiese siektes was 'n voortdurende gesondheidsrisiko. Die enigste hulp wat in hierdie verband beskikbaar was, was die Elim hospitaal en dokters van die Switserse gemeenskap daar.
Die idilliese pioniersbestaan is vernietig deur die Anglo Boere-oorlog. Die herstel was langsaam, maar het uiteindelik gelei tot verskillende fases in ontwikkeling van die plaaslike omgewing.
In die jare dertig het 'n kritieke droogte veral veeboere aan die noordekant van die Soutpansberg ernstig getref. Die staat moes tot hulle hulp kom en het grond aangekoop vir besproeiingspersele. Die eerste grondkanale is aangevoor uit studamme in die Luvhuvhu, Lotanyanda en Barotta-riviere. Die persele is toegeken aan nedersetters wat hul grond in die droogtegeteisterde gebiede uitgeruil het. Hulle het in 1938-1940 ingetrek, maar sommige is later vervang deur nuwe intrekkers.
Boerderybedrywighede was aanvanklik bloot bestaansgerig. Infrastruktuur, soos paaie, telefoon- en posgeriewe en vervoerdienste was onontwikkeld. Lang afstande na swak ontwikkelde markte was knelpunte, tesame met die onderlinge polarisasie wat deur die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak is. Handelsdienste is verskaf deur 'n plaaslike winkel, garage en enkele Indiërwinkeltjies. Tropiese siektes was nog steeds 'n probleem.
Die Albasinidam het in 1952 die uitmeet van die bykomende, sogenaamde A-persele op hoërliggende dele moontlik gemaak. Die dam is gebou weens die watertekorte tydens droogtetye. Die historiese plaas Goedewensch van pionier Joao Albasini is gekies vir die dam. Nuwe setlaars het van oral oor Suid-Afrika gekom en daadwerklik begin met die aanplanting van tropiese vrugte – veral piesangs. Die talle nuwe inwoners het by die ongewone omstandighede aangepas en bygedra tot die verbetering van infrastruktuur, deur ondermeer die teerpad en poskantoor te bou en die Zoutpansberg ko-operatiewe Piesangkwekers Maatskappy op te rig. Die toetrede van verskillende staatsdepartemente en verbeterde malaria-beheer het bygedra tot die verbetering van die gesondheidsituasie. Die oprigting van die Tshilidzini Hospitaal en die Landbounavorsingstasie het die gemeenskapslewe aanmerklik verbeter.
Die finale fase in die vestiging op Levubu het aangebreek toe die plaas Laatsgevonden aangekoop is en 'n verdere aantal persele aangelê is. Die persele was besproeibaar uit die Albasinidam en ook uit die Lotoyandakanaal. Die sogenaamde E-uitbreiding het so ontstaan. Die nuwe intrekkers het weereens uit alle dele van die land gekom en die verbouing van tropiese vrugte verder uitgebrei. Republiekwording en desimalisasie was 'n stimulus vir sterk vordering op die ontwikkeling van die ganse streek. Die nuwe intrekkers moes spoedig aanpas by die onttrekking van die staat se beheer oor boerdery en oor die nedersetting, en het ywerig begin bou aan navorsings- en voorligtingstrukture. Die Levubu Koöperasie sou hierin 'n sleutelfunksie vervul. Die beskikbaarheid van Evkomkrag en uitgebreide teerpaaie en outomatiese telefone het nuwe denkpatrone oor bemarking en produksie van subtropiese produkte in die hand gewerk. Handelsdienste het floreer.
Ook in hierdie fase het die koms van amptenare en ontwikkelaars ongekende ontwikkeling in Vendaland en Gazankulu meegebring. Navorsings- en onderwysinstellings, universiteite, hospitale en weermaginstellings is gevestig. Die NG-gemeente is ook in hierdie tydperk op Levubu gestig. Die kultuurlewe binne die gemeenskap het floreer met die stigting van musiekskole, koorkompetisies, feeskomitees en natuurleweverenigings.
Die nuwe ontwikkeling het 'n ongekende invloed op die Levubu gemeenskap uitgeoefen, wat sou voortduur totdat die nuwe regeringsbeleid sou lei tot die geleidelike aftakeling en onttrekking van die betrokke staatsstrukture, amptenare en ontwikkelaars. Die onttrekking het 'n leemte gelaat wat verreikende gevolge meebring. Die herinneringe aan Levubu by die betrokkenes is egter blywend en het onder andere aanleiding gegee tot die stigting van die Pionierspark, met sy Pioniers gedenkteken.

ADVERTISEMENT:
