

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 September 2002
LOUIS TRICHARDT – Die Suid-Afrikaanse Lugmag het einde verlede maand hul tweede en laaste lugvermoë en wapendemonstrasie vir die jaar aangebied by die Roodewal Bombaan net buite Polokwane (Pietersburg).
Dié jaarlikse demonstrasie is ingestel om aan die senior weermagpersoneel, asook die publiek die aanvalsvermoë van die SALM te demonstreer. Volgens reëls was die eerste dag se vertoning oop vir die publiek, terwyl die tweede dag se vertoning slegs vir die weermag beskore was.
Eskaders van so ver as Bloemfontein en so naby as LMB Louis Trichardt was betrokke by die gebeurtenis. Alhoewel die Cheetah's van 2 Eskader (Louis Trichardt) en die Rooivalk-aanvalshelikopter van 16 Eskader (Bloemfontein) die meeste aftrek geniet het, is briljante vertonings ook gelewer deur die Impala-vegvliegtuig van 85 Vliegskool (Hoedspruit), die Oryx- en Alhouette-helikopters van 17 en 19 Eskader, die Casa 212 van 44 Eskader en die Cessna Caravan van 41 Eskader.
Die doel van die vertoning was om te illustreer hoe die lugmag hul vermoëns aanwend in gesamentlike operasies en humanitêre steun. Die Cheetah's en Impala's het ondermeer gedemonstreer hoe hulle teikens met kanonvuur aanval, asook hoe hulle bomme akkuraat op teikens laat val met behulp van laser en grondmagte. Daar was ook demonstrasies deur die Alhouett- en Oryx-helikopters, maar dit was die Rooivalk wat die kalklig gesteel het deur vanuit verskillende hoeke op bewegende teiken te skiet. Verskeie valskermtroepe, ondermeer lede van 44 Valskermregiment, was ook in aksie te siene.

ADVERTISEMENT:
