ADVERTISEMENT:

 

Na amper 37 jaar in diens van die plaaslike munisipaliteit, het Dopper Kruger (middel) besluit om af te tree. Die burgemeester, rdl. Rhulani Nkuzana (links), het Maandag hulde aan hom gebring tydens die jaarlikse begrotingsete. Saam met hulle is die Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado.

Munisipaliteit se ou staatmaker tree af

 

News  Date: 04 June 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Dit is eintlik hartseer om te dink dat, na amper 37 jaar se diens, is alles skielik verby. Ek tree nou wel af, maar ek gaan beslis nie stilsit nie."

Dit was die woorde van mnr. Dopper Kruger, die munisipale amptenaar wat tot Maandag gespog het met die meeste jare in diens van die munisipaliteit. Hy het op 31 Mei amptelik sy laaste dag gewerk as die munisipaliteit se Bestuurder: Finansies.

Dopper dink met heimwee terug aan sy beginjare by die munisipaliteit.

"Ek het op 2 Januarie 1968, met oom Ben Cronjé as stadsklerk, by die Raad begin werk. Die destydse tesourier, oom Corrie van Rooyen, het my aangestel as Klerk Graad 3 (meterlesing). Ek moes fisies met die fiets ry en huise se meters lees vanaf die oggend agtuur tot eenuur. In die middag moes ek dan die rekeninge uitwerk."

Dopper sê dinge daardie tyd was anders as vandag.

"Die munisipaliteit was klein en ons was soos 'n familie," sê hy.

Wat betref die nuwe bedeling het Dopper gesê: "Voor 1994 was dinge baie meer ordelik. Eintlik het dit al vanaf 1990 begin verander. Terselfdertyd het dinge sedert 1994 baie meer oop geword, alhoewel besluitneming voorheen baie vinniger gedoen is."

Dopper sê hy het goed aangepas in die nuwe bedeling, grootliks omdat hy hom nie regtig gesteur het aan die politiek nie. Hy beskryf egter die groot geveg tussen hom en die Raad oor die aanstelling van 'n regstellende amptenaar bo hom as 'n laagtepunt in sy loopbaan. Hy egter die saak gewen en dit het aanleiding gegee daartoe dat hy vir 'n periode van drie jaar (vanaf September 1999 tot Desember 2002) kon optree as die dorp se tesourier.

"Ek het my nooit regtig gesteur aan die politiek nie. My standpunt was dat ek vir die gemeenskap werk. Ja, daar was negatiewe dinge, maar so ook was daar net soveel positiewe dinge. Ons het lekker saamgewerk."

Tydens Maandag se begrotingsete het die burgemeester, rdl. Rhulani Nkuzana, hulde gebring aan Dopper. Sy kollegas se liefde en respek vir hom was duidelik te siene, soos daar deur alle bevolkingsgroepe na hom verwys is as Oompie Dopper. Sedert 1981 was Dopper elke jaar betrokke by die finalisering van die begroting. As afskeidsgeskenk het rdl. Nkuzana, op versoek van Dopper, vir hom 'n afskrif van oud-president Nelson Mandela se boek Long walk to Freedom oorhandig.

Ten spyte daarvan dat hy aftree, maak Dopper 'n punt daarvan om te noem dat hy beslis nie gaan stilsit nie. Eerste op sy agenda as pensioenaris is 'n besoek aan die Olimpiese Spele in Augustus. Daarna gaan hy 'n bietjie in Europa toer en vir sy seun kuier in Engeland. Met sy terugkeer, sê hy, gaan hy steeds op 'n konsultasiebasis uithelp by die munisipaliteit, asook moontlik by die Vhembe Distriksmunisipaliteit. 'n Paar plaaslike besighede het hom ook genader vir hulp met hul boeke.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines