

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 September 2012
Die natuur se eie skoonmakers, wat dikwels nie te geliefd is nie, was die afgelope Saterdag die eregaste by die Blouberg Natuurreservaat.
Aasvoëls, wat ‘n belangrike rol in die ekosisteem speel, het die afgelope naweek erkenning gekry vir hulle funksie, tydens ‘n feestelike viering van Internasionale Aasvoëldag by die reservaat. Dié dag is gereël in samewerking met die Vriende van Blouberg-groep en die Birdlife Soutpansberg Voëlkykersklub.
Die geleentheid was die eerste van sy soort, maar belowe om ‘n jaarlikse instelling te word.
Verrigtinge is Saterdagoggend afgeskop met ‘n praatjie oor aasvoëls, ‘n spesie wat se belangrikheid in die natuur dikwels onderskat word. Mnr. David Pretorius, ‘n nasionale voëlringer, het die praatjie aangebied. Hy is ook sedert 1996 betrokke by die Blouberg Natuurreservaat se Aasvoël-projek.
Blouberg Natuurreservaat is tans aan die voorpunt van die bewaring van hierdie voëlsoort. Die reservaat het meer as 10 jaar gelede ‘n projek begin waarin plaaslike gemeenskappe betrek en vergoed word ten opsigte van die bewaring van aasvoëls. Aasvoëls, wat gesog is vir muti-mengsels, word van die gemeenskap teruggekoop, gesond gemaak en weer in die natuur vrygelaat.
Saterdag was darem nie net ‘n dag vir ernstige sake nie; daar is ook ander aktiwiteite soos graaf-“surfing” en ‘n skattejag aangebied. Besoekers is ook getrakteer op ‘n besoek aan die aasvoël-restaurant, waar karkasse vir die aasvoëls uitgegooi word, op die reservaat. Pretorius self was ook byderhand om vrae te antwoord oor die broeikolonie teen die hange van Blouberg, wat deur teleskope gesien kon word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
