ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Leon Koen met sy paspoort wat hom amper in ‘n Zimbabwiese tronk laat beland het. Regs wys die vergroting hoe sy geboorteland aangedui is as Afganistan en nie Rhodesië nie.

Byna in tronk oor Taliban “verbintenis”

 

News  Date: 07 September 2012

 

Maak maar seker die nodige papierwerkies is reg voordat jy die landsgrense verlaat, want netnou sit jy met jou agterstewe agter tralies omdat mense dink jy is lid van die Taliban.

Só waarsku mnr. Leon Koen van Makhado (Louis Trichardt), nadat ‘n fout op sy paspoort hom byna in ‘n Zimbabwiese tronk laat beland het.

Koen, ‘n professionele jagter, het vanaf 10 tot 25 Augustus twee Amerikaanse jagters op ‘n Groot Vyf-jagtog in Zimbabwe vergesel.

Kort voor sy vertrek is hy egter bewus gemaak van ‘n probleem met sy paspoort. Instede van die kode wat Rhodesië (nou Zimbabwe) as sy geboorteland aandui, het ‘n vingerfout by die Departement van Binnelandse Sake blykbaar veroorsaak dat sy kode verander het – na die kode vir Afganistan!

“Ek het die fout in die vyf dae voor my vertrek probeer regmaak, maar hulle het vir my gesê dit sal ‘n minimum van 15 dae neem. Wat kon ek doen? Die jag was klaar gereël en betaal,” vertel Koen. Hy is toe met die foutiewe paspoort deur die grenspos by Beitbrug, waarna hy die Amerikaanse jaggeselskap by die Victoria Valle opgelaai het en deurgery het na hul konsessie jagkamp.

“Alles het goed gegaan, maar vier dae in die jag in daag daar drie senior amptenare van die President se kantoor in Victoria Valle by die jagkamp op - en hierdie manne is nie sommer gewone polisie nie ...” sê Koen. Die drie amptenare het Koen eenkant toe gevat en behoorlik onder “kruisverhoor” geneem oor sy paspoort.

“Ek moes bewys dat ek regtig in Zimbabwe gebore is. Ek het vir hulle my geboortesertifikaat gewys, asook my Suid-Afrikaanse identiteitsdokument, wat wys dat ek in Zimbabwe gebore is,” sê Koen. Die drie wou egter nog meer bewyse gehad het en wou weet waarom Koen se paspoort dan wys hy is in Afganistan gebore?

“Toe vra hulle my: ‘Have you got any relationship with the Taliban?’ Ek kon dit nie glo nie!” sê Koen.

Die drie het vir Koen gesê dat hy in ernstige moeilikheid is en dat hulle sal moet besluit of hulle hom gaan toesluit of deporteer. In ‘n poging om die situasie te ontlont het Koen hulle selfs vir ete genooi, maar die driemanskap wou niks weet nie. Dit was toe dat Koen egter besef het waaroor dit nou eintlik gaan– omkoopgeld!

Alhoewel die amptenare nooit reguit gesê het hulle soek geld nie, was die suggestie ooglopend.

“Hulle het vir my gevra: ‘Have you decided how are we going to resolve the situation? If we detain you, it is going to take two to three weeks!’ Dit was toe dat ek ook heel diplomaties vra wat dit sal vat om die probleem op te los?” vertel Koen.

Skaars was sy woorde koud of die vraag kom: “What can you offer?”

“Ek het hulle eers U$200 aangebied, maar dit was te min. Hulle wou elkeen U$600 hê, maar ek kon dit nie bekostig nie. Ek het elkeen U$400 aangebied, wat vir hulle aanvaarbaar was,” sê Koen. Hy sê dit was duidelik dat die drie “ou hande” was as dit kom by omkopery. Voordat daar oor enige geld gepraat of betaal is, is hy geforseer om sy horlosie af te haal en sy selfoon voor hulle af te skakel, blykbaar net in geval hy die “transaksie” op rekord wou kry. “Hulle het selfs my hemp se knope deurgegaan om te kyk of daar nie ‘n kamera in versteek was nie,” sê Koen.

Die ergste vir Koen was egter toe hy die U$1 200 (ongeveer R10 000) by een van sy Amerikaanse kliënte moes leen. Nadat hy die beamptes betaal het, wou hy tog ‘n waarborg hê dat iemand anders nie ook ‘n uur later gaan opdaag om te kollekteer nie?

“Hulle het my verseker dat ek nie weer probleme sal hê nie, wat wel die geval was. Ek het die jag klaargemaak en teruggekeer Suid-Afrika toe,” sê Koen. Hy meen hy sal spoedig die probleem met sy paspoort regstel.

Oor die betaling van omkoopgeld was Koen van mening dat dit altyd beter is om die morele hoë grond te hou, maar dan ten koste waarvan, in ‘n land wat bekend is vir omkopery en korrupsie?

“Ek het nie kans gesien om drie weke in ‘n Zimbabwiese tronk te sit nie. Wie weet met watter siektes kom jy terug as jy daar uitkom? Wat sou jy gedoen het in só ‘n situasie?” het Koen gevra.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines