ADVERTISEMENT:

 

Grafiek met die vriendelike vergunning van SA Speedbumps.

Suksesvolle vertoë laat vrae oor wettigheid van padtekens

 

News  Date: 07 September 2012

 

Hoe wettig is van die verkeers- en padtekens in Makhado (Louis Trichardt)?

Die Zoutpansberger  het gaan ondersoek instel, nadat ‘n inwoner van die dorp suksesvol ‘n vertoë teen ‘n spoedkaartjie gerig het, omdat die padteken wat die spoed aandui te hoog aangebring was.

Die inwoner, wat nie geïdentifiseer wil word nie, is deur verkeersbeamptes voorgekeer, nadat hy glo 75km per uur in ‘n 60km-sone gery het op die N1 net buite die dorp. Hy was bewus van die regulasies ten opsigte van verkeerstekens en het ná die tyd sy maatband uitgehaal en die verkeersteken, wat motoriste waarsku om spoed te verminder, se hoogte vanaf die grond gemeet. Dit was wel te hoog.  Volgens die regulasies van die Padverkeerswet van 1996 (Wet 93 van 1996) moet dié betrokke padteken tussen 1.8 en 2 meter bo die grond geplant word. Die teken langs die N1 het, volgens die vertoë, 2.35m bo die grond gestaan. Nodeloos om te sê, die kaartjie is teruggetrek.

Dit het die vraag laat ontstaan hoeveel van die dorp se padtekens (of gebrek daaraan) wettig is?

Die Zoutpansberger het ‘n vinnige steekproef gedoen, veral wat stoptekens betref, gesien in die lig daarvan dat weinig mense in die dorp hulle daaraan steur.

By sommige kruisings was die stoptekens almal op verskillende hoogtes. By ander kruisings is stoptekens reeds weke en selfs maande lank vermis, alhoewel waarskuwingslyne nog op die padoppervlakte geverf is. Dan was daar die stoptekens wat so hoog by kruisings geplant is dat bome dit versteek. Ander was weer so laag geplant dat dit ‘n gevaar vir voetgangers inhou. By talle kruisings was daar stoptekens, maar geen waarskuwingslyne op die padoppervlakte nie.

So, aan watter regulasies moet sekere verkeerstekens voldoen?

‘n Internetstudie van die Padverkeerswet van 1996 (Wet 93 van 1996) was maar aan die skraps kant as dit kom by die regulasies. Plaaslike bronne was ook nie van veel hulp nie.

Navraag by die munisipale verkeersafdeling het aan die lig gebring dat hulle nie eens in besit is van ‘n volledige kopie van die wet nie. Daar kon wel vasgestel word dat die Padverkeerswet uit vyf dele bestaan. Een deel bevat die wet en die res bestaan uit regulasies, wat onder andere verkeers- en padtekens reguleer.

Die wet maak ook melding van ‘n verdere dokument, naamlik die Southern African Development Community Road Traffic Signs Manual (SADCRTSM), wat addisionele riglyne bevat. Die munisipaliteit het ook nie ‘n kopie van hierdie handleiding nie. Die kantoor van die plaaslike provinsiale verkeersafdeling was ook nie seker waar hulle kopie van die handleiding was nie.

‘n Privaatmaatskappy wat padtekens vervaardig en installeer, SA Speedbumps, kon bietjie meer duidelikheid gee.

Die maatskappy se tegniese en logistieke bestuurder, mnr. Kendal Thompson, het verduidelik dat hulle maatskappy vanuit die Padverkeerswet, die SADCRTSM, die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) en verskeie Witskrifte van die Departement van Vervoer hul eie handleiding saamgestel het. Hierdie dokument haal egter nie provinsiale wetgewing vir spesifieke munisipaliteite aan nie en Thompson kon net ‘n algemene en nie-amptelike aanduiding gee van die hoogtes.

“Die enigste tekens wat aan enige vaste reëls moet voldoen is dié by kruisings,” het Thompson gesê.

Volgens Thompson moet ‘n teken by ‘n kruising, soos ‘n stopteken, tussen 'n minimum en maksimum hoogte van 2,1 en 3 meter bo die grond geplant word. Die installeerder, sê Thompson, moet ook die toestand en omstandighede van die pad in ag neem. Dit sluit dinge in soos bome, ondergrondse pype en ‘n draai of hoogte in die pad.

Wat die minimum hoogte betref, blyk dit dat heelwat van die dorp se stoptekens nie aan die regulasies voldoen nie. Die vraag kan gevra word: Is die kaartjie wettig wat jy by so ‘n teken kry as jy versuim om te stop en is dit die rede waarom die verkeersafdeling nie hulle tyd wil mors of mense te beboet nie?

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines