

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 September 2012
Die padwerke in Andersonstraat het nou verjaar!
“Ek kan presies onthou dat dit die laaste week in Augustus verlede jaar was dat daar aktief met die padwerke begin is,” sê mnr. Schalk Grobbelaar, een van die inwoners in dié kort stukkie van Andersonstraat tussen Stubbs- en Ruhstraat. Die amptelike begindatum van die projek was 25 Mei 2011 en die voltooidatum was 25 Januarie 2012, het die Makhado Munisipaliteit gesê.
Grobbelaar het tong-in-die-kies gesê dat daar eintlik ‘n koek met een kersie aan die Makhado Munisipaliteit oorhandig moet word om die padwerke se eerste verjaarsdag te vier. Al die bure moes saam worstel deur die lang, uitgerekte proses van die herhaalde omploeg van die teer, waarna die werk net weer vir lang tye heeltemal stilgestaan het. Die onbeskryflike stofwolke is ‘n goeie 10 maande verduur, tot ‘n paar dae voor die Kremetart fietswedren op 9 Junie, toe Stubbs-, Munnik- en Andersonstraat weens baie druk gou geteer is deur Polokwane Surfacing (Hillary).
“Hulle het hierdie week die randstene in Andersonstraat begin messel met troffels. Ek weet, want hulle kom altyd water by my haal,” sê Grobbelaar. Weereens moet die hoë lading verkeer teen ‘n slakkepas en dikwels in ‘n enkelbaan beweeg as gevolg van die werk aan die pad.
“Daar is ‘n hoogteverskil tussen die nuwe pad en ons erwe. Die straat is 300mm hoër as wat dit voorheen was. Op die oomblik, as dit sou reën, sal die water reguit in ons erwe inhardloop, want daar is niks wat keer nie. Ons sal moet sien wat die eindresultaat van die pad oplewer,” sê Grobbelaar.
“As alles goed gaan, kan die werk aan Anderson- en Munnikstraat binne vier weke klaar wees,” het die ingenieur, mnr. Pieter Meiring, van Dombo en Du Plessis Raadgewende Ingenieurs, op 23 Augustus gesê.
Die oponthoud met die randstene is vererger deur kontantvloeiprobleme by die kontrakteur. “Nie al die randstene wat daar gelê is, is reg nie. Sommiges moet vervang word. Die opgedateerde fakture is reeds ingehandig en sodra die kontrakteur die geld in sy rekening het, word die ander randstene afgelewer,” het Meiring gesê. Die kontrakteur van die projek is Fantique Trading. ‘n Voormalige terreiningenieur het gesê dat dit baie waarskynlik is dat die kontrakteur nie wins uit die projek gaan maak nie.
So deur die loop van die jaar was daar soms kontantvleiprobleme met die projek, soms het ‘n tekort aan bitumen die skuld gekry, soms was dit bloot swak interne bestuur en beplanning. Steeds bly dit moeilik om aan iemand te verduidelik hoe op aarde ‘n munisipaliteit en ‘n kontrakteur dit kan regkry om na 12 maande van padwerke op ‘n kort stukkie straat, nog steeds nie klaar te wees nie ...
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
