ADVERTISEMENT:

 

Staak onwettige arrestasies, eis DLU

 

News  Date: 13 September 2002

 

MESSINA – "Staak die onwettige arrestasie van ons mense op die Zimbabwe model – Ons sal dit nie aanvaar nie."

Hierdie duidelike boodskap word vandeesweek onomwonde deur georganiseerde landbou gerig aan polisiebeamptes en aan politici wat gesag misbruik vir rassistiese politieke optrede teen boere en teen blanke beamptes.

Regstappe word vandeesweek voorberei teen die Polisie en teen die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit.

Dié standpuntinname deur die TLU volg op die jongste onthulling dat 'n blanke predikant uit die omgewing van Messina op 'n rassistiese wyse hardhandig deur 'n swart polisiebeampte in hegtenis geneem en in die polisieselle toegesluit is, nadat die predikant 'n diefstalklag aanhangig gemaak het.

Georganiseerde landbou begin vandeesweek met regstappe in die Limpopo provinsie na 'n reeks insidente waarin boere wat teen misdadigers opgetree het, summier deur die polisie in hegtenis geneem is. Die insidente het gekulmineer in die optrede van die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, wat 'n blanke polisie-offisier in die openbaar voor 'n SABC televisiekamera uitgetrap het omdat hy nie 'n blanke boer van Rondebosch laat toesluit het nadat hy slaags geraak het met 'n onwettige indringer in sy huis nie. Die indringer was 'n swart vrou en is na die skermutseling dood. Daar was niks wat die boer strafregtelik met die dood van die vrou kon verbind nie.

Die gedrag van die LUR het opnuut die soeklig laat val op 'n reeks omstrede polisie-optredes teen boere wat in elke geval onskuldig bevind is.

Die LUR se gedrag het hewige verontwaardigde reaksie van kykers uitgelok, wat dit as verregaande vewerp het. Daar was ook verontwaardiging teenoor die polisie se skakeloffisier en die SABC wat hulle vir die vertoning laat misbruik het.

'n Woordvoerder van die Soutpansberg DLU het vandeesweek bevestig dat regsoptrede teen die LUR nou aan die gang is. Stukke word ook voorberei vir aanklagte van onwettige arrestasies teen die polisie.

Die optrede volg nadat die Soutpansberg DLU vier onlangse voorvalle van onwettige arrestasies amptelik onder die aandag van die bestuur van die TLU Noordstreek gebring het.

Een van die gevalle is die van die predikant wat twee dae nadat hy 'n klag van diefstal gelê het, na Messina ontbied is waar hy hardhandig in hegtenis geneem is op 'n opvallende vals aanklag van aanranding. Die predikant is op 16 Julie vanjaar in die hof onskuldig bevind en die aanvanklike skelms het erken dat die SAPD-lede hulle voorgesê het om 'n klag te lê, hoewel hulle nooit aangerand is nie.

Toe die predikant op 13 Augustus by die bevelvoerder op Messina navraag doen oor sy aanvanklike diefstalklag, is hy meegedeel dat die diefstaldossier weg is en dat hy niks omtrent sy arrestasie kan doen nie.

Deur die snelle optrede van die TLU is mnr. Johnny Grayson binne enkele ure vrygelaat, nadat hy teen alle advies en rede in deur 'n polisieman op Messina in hegtenis geneem en in 'n oorvol sel geplaas is.

In 'n brief aan die Noord-streek van die TLU het die Soutpansberg DLU gesê dit is tyd dat onverantwoordelike en onbevoegde SAPD-lede en moedswillige politici in die bek geruk word.

Die DLU het herhaalde vergaderings met die polisie owerhede gehad.

Op die jongste TLU kongres is verskeie paralelle getrek met die situasie in Zimbabwe.

Mnr. Willie Lewies van die TLU het 'n oorsig van die aanloop en huidige gebeure in Zimbabwe gegee. In repliek het Mnr. Gideon Meiring van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie 'n boer van Zimbabwe aangehaal wat dit duidelik stel dat die gebrek aan standpuntinname tot 'n groot mate die oorsaak van die huidige chaos in daardie land is. Hy het gesê landbou-strukture moet sterk staan en standpunt inneem.

Mnr. Meiring sê die boere in Suid-Afrika soek nie konfrontasie nie. Die onwettige arrestasies word egter ervaar as teistering en viktimisasie op die Zimbabwe model. Daarteen sal met insig teenstand gebied word.

'n Gedragskode is reeds opgestel oor hoe boere moet optree ten tyde van 'n duidelik onwettige arrestasie. Die DLU en by implikasie die TLU sal die verantwoordelikheid neem om sodanige boer by die hof te besorg. In terme van die land se grondwet is elke individu geregtig op 'n plek van aanhouding wat nie sy menswaardigheid fisies of geestelik aantas nie. "By gebrek sal en kan ons sodanige arrestasie nie toelaat nie en sal ons ongelukkig moet standpunt inneem," het mnr. Meiring gesê.

In voorstelle aan die TLU kongres is duidelik gestel dat onnodige desperate en wederegtelike optrede ontmoedig moet word deur 'n sinvolle strategie daar te stel en te demonstreer. In gesprekke met die owerheid moet aangedring word op tasbare resultate teen realistiese keerdatums.

Die belangrikheid van die TLU se landelike beveiligingsplan vir opleiding en bemagtiging is beklemtoon.

Die Soutpansberg DLU het reeds binne net meer as twee maande 119 studente die kursusse laat deurloop.

"Kom ons gee ons mense hoop, 'n waarskuwing aan die misdadiger en 'n duidelike boodskap aan die Regering. Ons sal voortgaan met die implementering van die landelike beveiligingsplan tot 'n toestand waar ons landwyd ons onderskeie gebiede sal domineer, met of sonder die owerheid se insette", het mnr. Meiring gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines