ADVERTISEMENT:

 

Dorp se oudste werktuigkundige sterf

 

News  Date: 13 September 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Met sy heengaan op Sondag, 1 September, het mnr. Arthur Webber, die oudste werktuigkundige op die dorp en 'n legende in sy eie leeftyd, 'n groot leemte gelaat.

Arthur Webber is op 21 September 1909 in Germiston gebore. Op driejarige ouderdom het hy saam met sy ouers na Louis Trichardt verhuis waar hy gewoon het tot en met sy heengaan op die rype ouderdom van 92 jaar en 11 maande. Hy is oorlede na 'n lang siekbed.

As motorwerktuigkundige was hy deur en deur 'n Ford man. Die eerste Ford motorhawe is omstreeks 1927 op die dorp geopen en Arthur was daar werksaam. Hy het vir 63 jaar getroue diens aan die Ford handelsmaatskappy gelewer, ook by die bekende Northern Motors.

Van die kleurryke Arthur vertel oom Hansie Uys van Louis Trichardt: "Hy het 'n groot voorliefde vir V8-enjins gehad en vinnige motors was in sy bloed. Dit was algemeen bekend dat hy sy dogter wat op Pietersburg op skool was in minder as twee ure kon gaan haal en dit op die destydse ou grondpaaie."

Van 1940 tot 1944 tydens die Tweede Wêreldoorlog het Arthur vrywillige weermagdiens gedoen as 'n vliegtuigwerktuigkundige in Egipte en Italië. Sy vliegtuig is ook afgeskiet en hy het sewe maande in 'n Italiaanse hospitaal deurgebring.

As grootwildjagter en uitmuntende skut was daar min wat by Arthur kon kers vashou. Grootwildjag was sy passie en oom Corrie Jooste vertel dat Arthur in totaal 24 olifante geskiet het.

Arthur Webber is op 5 September 2002 begrawe vanuit die kerkgebou van die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente en die diens is waargeneem deur ds. Marjorie Denner van die Methodiste Kerk. Arthur word oorleef deur sy vrou, Molly, drie eie kinders, nege kleinkinders en negentien agterkleinkinders.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines