

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 September 2012
Enige goeie bedoelings wat die Makhado polisie mag gehad het, is oorskadu deur hulle optrede teen beweerde onwettige padstaleienaars.
Trouens, dié optrede het by die betrokke eienaars net vrae en verwarring gelos.
Verlede Woensdag moes meer as een padstaleienaar verbaas toekyk hoe vyf polisielede hul winkelvoorraad begin opskryf, omdat hulle glo sonder ‘n lisensie handel gedryf het.
Mnr. Kallie Röttcher, eienaar van die Leopard Rock-padstalletjie op die N1-noord, was een so ‘n eienaar. Groot was sy ontsteltenis toe polisielede vroegoggend voor die stalletjie stop en dreig om beslag te lê op sy winkelvoorraad as hy nie sy handelslisensie kan toon nie.
In die ongeveer 30 jaar wat Röttcher eienaar van die stalletjie is, is dit die eerste keer wat enige iemand hom vra vir só ‘n lisensie. Só het Röttcher aan die koerant gesê, terwyl die polisie nog besig was om sy voorraad bymekaar te maak.
“Onredelik – dit is totaal en al onredelik,” het Röttcher die polisie se optrede beskryf. “Sulke ongeskikte mense hoort nie in die polisie nie. Daar is veel erger misdaad as om onskuldige mense te pla,” het hy gesê.
Die betrokke polisielede het aanvanklik aangedring dat hulle ‘n hofbevel het om alle besighede wat sonder ‘n lisensie handel dryf toe te maak. Daar kon later betroubaar vasgestel word dat geen só ‘n hofbevel uitgereik is nie.
Verder het Röttcher gesê dat die polisie ook geweier het om hulleself te identifiseer en eers later, op sy aandrang, hulle identiteitskaarte aan Röttcher getoon het. Al die lede, vier mans en ‘n vrou, was in siviele kleredrag.
Nadat al die winkel se voorraad opgelaai is, is Phato, die winkelassistent, gearresteer en aangekla van handeldryf sonder ‘n lisensie, in terme van die Besigheidswet van 1991 (Wet 71 van 1991). Hy is vir die hele dag in die selle gehou, voordat hy met ‘n waarskuwing om die volgende dag in die hof te verskyn, vrygelaat is.
Maar, net soos in ‘n soortgelyke geval, is Röttcher se saak van die hofrol geskrap.
Verdere navrae by die Louis Trichardt Landdroshof het aan die lig gebring dat dieselfde polisiespan wat by Leopard Rock toegeslaan het, die dag vantevore ook die Calamari Driemyl Spaza se winkelvoorraad opgeskryf het. Die winkelassistent, Wouter Brits, is op dieselfde klag as Phato in hegtenis geneem.
Die saak is verlede Woensdag in die Louis Trichardt Distrikhof teen Brits teruggetrek. Die beslissing wat deur die hof gemaak is dat daar nie ‘n “misdryf is as die winkel buite die Makhado munisipale gebied val nie.”
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die polisielede glo in opdrag van ‘n nasionale polisie-omsendskrywe gehandel het. Dié brief is glo sowat twee maande gelede uitgereik en het beveel dat alle onwettige winkels, sjebeens en padstalletjies gesluit moet word. Hierdie besighede is geïdentifiseer as ‘n broeiplek vir misdaad.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
