ADVERTISEMENT:

 

Binne die blou kabelhuls is sewe plastiekpypies wat elk gevul word met ´n optiese vesel. "Elkeen van hierdie sewe vesels sal 150 miljoen oproepe gelyktydig kan hanteer," sê Japie.

Trans-Afrika veselkabelnetwerk lei ‘n nuwe era in vir kommunikasiebedryf

 

News  Date: 17 September 2012

 

Omvangryke optiese veselkabelnetwerke, wat beloof om ‘n omwenteling mee te bring in die vasteland se telekommunikasiebedryf, word op die oomblik teen groot spoed ook in die Limpopo provinsie aangelê.

Een so ‘n  trans-Afrika optiese veselkabelnetwerk sal ‘n ondersese kabel, wat by Tanzanië aan land kom, in Johannesburg met  bestaande netwerke verbind.  ‘n Gedeelte van hierdie netwerk word tans tussen Musina en Makhado (Louis Trichardt) voltooi. Die projek sal na verwagting teen Desember vanjaar reeds voltooi wees en in werking gestel kan word. Dit sal aansluit by soortgelyke netwerke wat Johannesburg ondermeer met Oos-Londen, Port Elizabeth en Kaapstad sal verbind.

Die hoof van een van die kontrakteurs wat hard werk aan die multi-miljoen rand projek, mnr. Jacques Coetzer van die onderneming Nivadox van Middelburg, het by navraag bevestig dat die werk om die kabel tussen Musina en Makhado (Louis Trichardt) te lê, reeds sowat 60% voltooi is. Ander kontrakteurs werk reeds aan die res van die afstand suid na Polokwane en Pretoria.

Coetzer sê die optiese veselkabels sal bestaande koperkabels vervang. Dit het die vermoë om ‘n verbysterende toename in die volume en spoed van telekommunikasieverkeer te bewerkstellig, teen ‘n drasties-verminderde prys.

“Die netwerke sal uiteindelik in elke dorp en elke straat aangelê word, sodat die dienste vir elke individuele private huurder beskikbaar sal wees, benewens die hoë gehalte verbeterde dienste wat aan banke en ander korporatiewe ondernemings verskaf sal word.”

Die optiese veselkabel word oor die hele afstand – ook deur die sakesentrums van die onderskeie dorpe -  ‘n meter ondergronds gelê. Die kontrakteurs is verantwoordelik vir die kompaktering en rehabilitasie van al die oppervlaktes wat oor die afstand van die projek versteur word met die lê van die kabel.

So ver moontlik word die werk by elke dorp verrig deur plaaslike arbeid. Die aanlê van soortgelyke netwerke is reeds in verskeie buurstate aan die gang en internasionale aansluitings en kringnetwerke word bewerkstellig.

Die afsonderlike netwerke word deur verskillende groot internasionale telekommunikasie ondernemings aangelê, wat dit ook teen mededingende pryse aan ander diensverskaffers beskikbaar kan stel.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines