

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 September 2012
Die hegte boerdery gemeenskap van Waterpoort is in rou met die nuus van die skielike dood van ‘n gewilde jong boer en pa van die omgewing, die 38-jarige mnr. Jaco Greyson.
Greyson, wat ZZ2 se afdelingsbestuurder vir hul boerderybedrywighede op die plaas Setapo was, is doodgeskok deur ‘n onwettige elektrisiteitskonneksie wat deur ‘n plaasarbeider by sy wooneenheid op die plaas aangebring is.
“Ons huil steeds. Hy was ‘n wonderlike pa en het absoluut gelewe vir sy kinders ...”
So het ‘n familievriend, mev. Kobie Fourie, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Greyson is beskryf as ‘n geweldige meelewende mens, nie net in die boerderygemeenskap nie, maar ook in sy betrokkenheid by die CVO Skool Vivo waar sy twee jong kinders, Lily (8) en Juan (9), skoolgaan.
Greyson het Maandag omstreeks 12:00 besoek gebring aan die plaasarbeiders se wooneenhede naby die Waterpoortstasie. By een van die eenhede het ‘n arbeider draad om sy groentetuin gespan en vanaf ‘n kragsok in sy huis geëlektrifiseer, vermoedelik om die bobbejane en wilde diere uit te hou.
Greyson het niksvermoedend en onwetend aan die geëlektrifiseerde draad geraak en is in die proses doodgeskok.
Die noodlottige gebeure is dadelik aan die maatskappy se werkswinkelbestuurder op Waterpoort, mnr. Johan van Zyl, gerapporteer, wat onmiddellik die polisie, Eskom en nooddienste ontbied het. ZZ2 se noodspan, bestaande uit senior bestuurslede en ‘n pastoor, was ook binne ‘n uur op die toneel om Greyson se eggenote, Liandra, en sy werknemers by te staan, asook om die voorval deeglik te ondersoek.
Alhoewel aanvanklike berigte dit wou hê dat die polisie die arbeider, ‘n Zimbabwiese man, op die toneel gearresteer het, het provinsiale polisiewoordvoerder lt.kol. Ronel Otto by navraag bevestig dat niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.
“Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen. By voltooiing van die ondersoek sal die bevindinge na die hof verwys word om te besluit of iemand vervolg moet word,” het Otto Dinsdag gesê.
Wyle mnr. Greyson sal eerskomende Maandag, 17 September, vanuit die Volle Evangelie Kerk in Makhado (Louis Trichardt) begrawe word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
