ADVERTISEMENT:

 

Professor se geskiedkundige staptog eindig op Schoemansdal

 

News  Date: 06 September 2002

 

SCHOEMANSDAL – Die eens rustige boerenedersetting van Schoemansdal aan die voet van die Soutpansberg, wat met verloop van jare ietwat in vergetelheid verval het, het Saterdag as fokuspunt en eindbestemming gedien vir bekende historikus, prof Louis Changuion, se epiese staptog van meer as 800km van Inhambane in Mosambiek.

Prof. Changuion meen hy kan maklik 'n boek skrywe oor sy interessante ervaringe tydens die geskiedkundige staptog vanaf Inhambane na Schoemansdal, wat hy in dertig dae voltooi het. Die voltooiing van sy reis van 835km, om 'n soortgelyke prestasie in 1855, deur Katolieke priester Joaquim de Santa Rita Montanha, te herdenk, het saamgeval met die vrystelling van 'n boek hieroor, geskryf deur prof. Cobus Ferreira.

Die doel van pater Joaquim se destydse staptog was om namens die Portugese regering handels- en diplomatieke betrekkinge met die Boererepubliek aan te knoop. Hy het na sy aankoms by Schoemansdal op 6 Julie 1855 vir bykans 'n jaar daar gebly, alvorens hy weer teruggestap het na Mosambiek. Synde hy die enigste godsman daardie tyd in die omgewing was, moes hy noodgedwonge al die sakramente aan die streng Calvinistiese boere bedien, insluitend huwelike, dope, nagmaal en begrafnisse.

Onder die aanwesiges wat Changuion verwelkom het, was kerk- en gemeenskapsleiers, asook akademici en afstammelinge van Montanha en die legendariese Joao Albasini. Selfs nasate en verteenwoordigers van die toentertydse Indengeza-stam was daar.

Die bebaarde professor het, tot groot genot van hierdie uiters verteenwoordigende gehoor, voorvalle genoem wat tydens die groot stap 'n blywende indruk op hom gemaak het. Die armoede van die landelike gemeenskappe in noordelike Mosambiek het hom veral diep geskok.

"Dit is duidelik dat hierdie mense nie dikwels besoekers van buite ontvang nie. Sommige van hulle, insluitende kinders, het ledemate verloor, as gevolg van landmyn ontploffings. Ek is herhaaldelik gewaarsku om nie onbekende paaie te gebruik nie, weens die gevaar van versteekte ploftoestelle," het hy vertel.

Die bosoorlog van 25 jaar het duidelik sy merk gelaat. Changuion het heelwat verwoeste voertuie teegekom en hy het daarop gewys dat daar feitlik geen wilde diere meer oor is nie.

Teen die einde van sy laaste skof, deur die Krugerwildtuin, het Changuion en die veldwagter wat hom vergesel het byna 'n stel afgetrap, toe hulle deur 'n olifantbul bestorm is. Die veldwagter het 'n paar skote in die lug gevuur en die ou grote het gelukkig die aftog geblaas.

"Maar daardie olifant was niks, in vergelyking met die gevare wat ek op die pad vanaf Punda Maria na Schoemansdal moes trotseer nie," het Changuion verduidelik. Hy sê hy moes verskeie kere uit die pad spring om te verhoed dat hy deur roekelose bestuurders omgery word.

Tydens die verwelkomingsfunksie by die Schoemansdal Inligtingsentrum het uitgewer Nicol Stassen 'n eksemplaar van die boek "Montanha in Zoutpansberg" aan die skrywer oorhandig. Daarna het prof. Ferreira boeke vir die publiek geteken, terwyl almal saam 'n smaaklike middagete geniet het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines