ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Wat het van hierdie skilderye geword?

 

News  Date: 21 September 2012

 

Waar is die historiese skilderye wat vir jare in die burgersentrum uitgestal was en ongeveer 10 jaar gelede skielik verwyder is?

Die vraag het weer opgeduik toe die skilder, wyle C.R. de Wet van Wyk, se broerskind ‘n navraag daaroor gerig het.  “Ek sal graag wil weet wat met die skilderye gebeur het?” het mnr. Hennie van Wyk van Velddrif aan die Weskus op 25 Augustus gevra.

Vyf groot olieverf werke is in opdrag van die destydse Louis Trichardt Stadsraad deur C.R. de Wet van Wyk geskilder om die geskiedenis en kultuurbedrywighede van die Voortrekkers van die Soutpansberg omgewing uit te beeld. Die skilderye spreek van ‘n besondere kunstalent, asook deeglike navorsing. Die skilder is in 2001 op 83-jarige ouderdom oorlede.

In Februarie 2002 is die eerste omstrede aankondiging gemaak dat die dorp se naam verander gaan word. Die volgende dag het die vyf skilderye onseremonieel verdwyn en daarmee saam die borsbeeld van die Voortrekkerpionier, Louis Trichardt. Daar is later uitgevind dat die borsbeeld saam met grassnyers in Fort Hendrina toegesluit was. Nadat die beeld “ontvoer” en terugbesorg is, het dit uiteindelik 'n rusplek  in die munisipale biblioteek gekry.

Die vyf skilderye se verhaal het egter nog nie ‘n gelukkige einde gehad nie. In 2005 het die Voorsittersvereniging die munisipaliteit daarop gewys dat die eensydige besluit van die munisipaliteit om belangrike kultuurhistoriese goedere te verwyder en weg te sluit waar niemand dit kan sien nie, ‘n skending van die basiese menseregte van die betrokke kultuurgemeenskap is. Grondwetlik het alle mense die basiese reg om hul kultuur te kan geniet en te bevorder.  Dieselfde jaar het die skilder  C.R. de Wet van Wyk se kleinseun en naamgenoot wat in die omgewing woon, ‘n aanbod aan die munisipaliteit gemaak om die skilderye terug te koop vir R12 000, die bedrag wat destyds betaal is.

In 2007 is pogings om die historiese skilderye herstel te kry, verskerp. Nasate van die skilder het gevrees dat die skilderye sou beskadig indien dit, soos wat die gerug dit wou hê, in ‘n donker, klam plek geberg is.  Die uiteinde van die pogings was dat  Van Wyk een keer deur die munisipaliteit toegelaat was om die verborge skilderye te sien.

“Ek het verstaan dat dit iewers in ‘n ‘kluis’ toegesluit is en in bobbelplastiek toegedraai is. Hulle het dit vir my uitgehaal, maar van wat ek kon sien, was daar alreeds waterskade aan die skilderye,” het Van Wyk gesê.

In Junie 2007 het ‘n destydse munisipale direkteur en deel van ‘n taakspan om die kultuurhistoriese goedere se sigbaarheid te ondersoek, mnr. Peter Magwala, gesê dat die skilderye skoongemaak en in die burgersentrum vertoon sal word. Van Wyk het sy kommer uitgespreek oor die gevolge as die skilderye nie met die nodige kundigheid skoongemaak word nie.

“My aanbod staan nog steeds om die skilderye terug te koop. Die familie wil graag eienaarskap oor die skilderye verkry. Ons sal dit op bruikleen op ‘n veilige plek, soos die erfenismuseum van die Lalapanzi Hotel, laat uitstal. Dan is die skilderye by mense wat daarvoor omgee en die publiek sal dit kan besigtig,” het Van Wyk hierdie week gesê.

Navrae oor die skilderye is sedert 3 September aan die Mkahdo Munisipaliteit gerig. Op 18 September het die woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, bevestig dat hulle die navraag ontvang het, maar gesê dat hulle nog besig is om die saak te ondersoek.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines