ADVERTISEMENT:

 

Polisie swyg oor bevindings van doodsondersoek

 

News  Date: 06 September 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Nuwe vrae het vandeesweek ontstaan in verband met die hantering van die ondersoek na die dood van 'n vrou in 'n plaaswoning op Welgevonden naby Louis Trichardt. Senior polisiewoordvoerders swyg nou soos die graf oor die oorsaak van die vrou se dood.

Die voorval het aanleiding gegee tot die hoogs omstrede rassistiese gedrag van die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, wat met 'n televisiespan van die SABC by die polisiekantoor op Louis Trichardt opgedaag het en ten aanskoue van geskokte kykers 'n striemende beskuldigende aanval geloods het teen 'n blanke polisie-offisier, omdat die blanke man wat by die voorval betrokke was, nie summier toegesluit is nie. LUR Me Dikeledi Magadzi was vergesel deur die polisie se media skakeloffisier, kapt. A. Mushavhanamadi wat by meer as een voorval van omstrede polisie-optrede teen blanke boere betrokke was.

Terwyl nie-amptelike berigte oor die oorsaak van die vrou se dood uit verskeie oorde ontvang is, was alle pogings om die amptelike bevindinge van die nadoodse ondersoek by die SAPD te bekom tot en met druktyd tevergeefs.

Volgens die aanvanklike polisieverslag op 7 Augustus het 'n man in die plaaswoning wakker geword van 'n geluid in die huis en gaan ondersoek instel. Hy het 'n vreemdeling in die huis aangetref en 'n worsteling het ontstaan, waartydens die indringer op die vloer geval en bly lê het. Dit was 'n vrou wat as skoonmaker en tuinier by 'n nabygeleë skool gewerk het. Sy was dood. Die man het die polisie ontbied. Die polisie het ondersoek ingestel en die man het voor die hof verskyn in verband met die dood van die vrou. Die saak teen hom is egter teruggetrek, hangende 'n verdere ondersoek. Volgens amptelike bronne was daar geen inligting voor die hof wat die man regstreeks met die dood van die vrou kon verbind nie. Geen nadoodse ondersoekverslag was toe beskikbaar nie.

Na bewering het die naasbestaandes van die oorledene na die LUR se omstrede optrede daarop aangedring dat 'n nadoodse ondersoek deur 'n mediese praktisyn van hul keuse uitgevoer moes word.

Verskeie pogings die afgelope weke om die uitslag van die nadoodse ondersoek by die polisie se mediaskakelkantoor te bekom, was tevergeefs. Dinsdag het Senior Superintendent Frans Mojapelo van die polisie se mediaskakelkantoor in Polokwane onder-neem om die amptelike uitslag deur die loop van die dag bekend te maak. Dit het nie gebeur nie.

Die polisie se onvermoë om vorendag te kom met die uitslag van die ondersoek, het opnuut vrae laat ontstaan oor die redes waarom die bevindings in so 'n hoë-profiel insident na bykans vier weke nog nie bekend gemaak is nie. 'n Bykomende vraag wat ontstaan is of die LUR se inmenging by die regsproses iets te make het met die vreemde stramheid om die tersake inligting vry te stel. Geen ander redes vir die amptelike stilswye kon van die polisie bekom word nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines