

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 September 2002
LEVUBU - 'n Pioniersgedenktuin word beoog in die bestaande boompark op die terrein van die N.G. Kerk Levubu-gemeente. Terselfdertyd word 'n gedenkboek in die vooruitsig gestel om die geskiedenis van die verskillende families wat oor die jare hul intrek hier geneem het, asook die rol wat hulle vervul het, op te teken.
Die sentrale fokuspunt van die Gedenktuin sal 'n ou betonmenger wees wat bewaar is by die eertydse Levubu Koöperasie. Die masjien sal tydens 'n spesiale funksie deur mnr. Andre Prinsloo van P&L Boerebenodigdhede oorhandig word aan mnr. Leo van Schaik (voorheen bestuurder van Levubu Koöperasie) wat dit namens die gemeenskap van Levubu sal ontvang. By die geleentheid sal 'n uiteensetting gegee word van die idee agter die betrokke gedenktuin.
Die organiseerders van die projek is terdeë daarvan bewus dat die hele gemeenskap by die projek betrek moet word en ook 'n bydra kan lewer. Gevolglik word 'n dringende beroep gedoen op alle persone wat wil deelneem om eerskomende Saterdag (7de) om 10:00 'n vergadering by die betrokke kerkterrein by te woon. Persone wat kan help sluit in nasate van die oorspronklike eienaars van die ou plase waarop die nedersetting aangele is (voor 1938), nasate van die eerste intrekkers in die nedersetting van agter die Soutpansberg en elders (in 1939), oorlewendes en nasate van intrekkers gedurende die volgende fase (in 1952), intrekkers en nasate in die finale fase (in 1962) en intrekkers of hulle nasate wat teen enige tyd gedurende die bestaan van die nedersetting grond gekoop, bewerk of boerdery bedryf het op Levubu op welke wyse ook al. Alle persone wat betrokke was as amptenare, sakemanne, professionele persone of andersins, insluitend oud-onderwysers en navorsingsbeamptes, is ook welkom om die geleentheid by te woon.
'n Aangename program sal aangebied word om die oggend te geniet. Vir meer besonderhede kan ds. Petrus Kriel (082 898 2081), Dianne Nel (015 583 0017 of 015 583 0228) of Lionel Hartman snr. (072 330 2133) geskakel word.

ADVERTISEMENT:
